Cheetahs klop die Leeus

Die Cheetahs het Saterdag op Ellispark in Johannesburg hul status as een van die vroeë gunstelinge in vanjaar se Curriebekerreeks gestand gedoen deur die Leeus met ’n enkele punt te klop in beide die twee spanne se eerste wedstryde van dié reeks.

Die eindtelling was 30-29 in die Cheetahs se guns.Die Leeus het die wedstryd met hul sterte in die lug benader, nadat hulle verlede week hul SuperRugby status teen die Kings teruggewen het, maar die Cheetahs het gewys dat hulle hul goeie vorm in vanjaar se SuperRugby reeks ook in die Curriebeker-seisoen wil voortsit met hierdie vertoning, waarin hulle vier drieë gedruk het en dus volpunte op die punteleer verdien het.

Die Leeus het eerste bloed geruik met ’n strafdoel binne drie minute deur Marnitz Boshoff, nadat die Cheetahs by ’n losskrum oortree het. Dit was uit desperaatheid om die honger Leeus van hul doellyn weg te hou ná ’n oordeelsfout van hul losskakel, Elgar Watts. Twee minute later het die Cheetahs gewys hoe gevaarlik hulle kan wees met vinnige omgekeerde besit, toe Robert Ebersohn ‘n beweging van 60 meter in die linkerhoek afgerond het, nadat die bal by die Leeus se voorspelers afgeneem is. Riaan Smith se doelskop was mis.

Die Cheetahs het die res van die eerste helfte beheer en een strafdoel aangeteken, maar die Leeus se verdediging het gehou totdat die Cheetahs tien minute voor rustyd gewys het dat hulle voorspelers ook ’n faktor kan wees as hulle aan die dryf gaan. Hulle het op loop gesit met ’n dryfbeweging van 20 meter wat deur Boom Prinsloo met ‘n drie afgerond is. Met die daaropvolgende afskop was dit asof die Leeus skielik na ‘n hoër rat oorgeskakel het. Hulle het besit omgekeer en met perfekte kombinasie tussen voor- en agterspelers en kort aangeë die spasies aangeval, totdat Stokkies Hanekom ‘n gaping gevind het om te gaan druk.

Skielik het die Leeus gevaarlik begin lyk en kamp opgeslaan in die Cheetahs se gebied. Volgehoue druk in die vaste skrums het die Leeus ‘n kans gegee om via die stewel van Marnitz Boshoff die telling op 13 elk gelyk te maak teen rustyd, nadat John-Roy Jenkinson, vaskopstut van die Cheetahs onwettig geskrum het. Die manne van Bloemfontein het die tweede helfte met nuwe ywer begin en binne die eerste vyf minute is Sarel Pretorius in ‘n effens omstrede situasie langs die pale oor vir ‘n drie, nadat dit gelyk het of een van sy voorspelers die bal op die grond met die hand teruggespeel het. Smit het verdoel.

Hierna het die wipplank-patroon hervat. Die Leeus het teruggeslaan met ‘n strafdoel en kort daarna het die Leeus se pak, wat intussen versterk is met die ervare CJ van der Linde as plaasvervanger op loskopstut, gewys dat hulle ook kan dryf en ‘n dryfbeweging van meer as 20 meter het op ‘n strafskop vir die Rooibontes uitgeloop wat die punteverskil weer na slegs vier laat krimp het. Johan Sadie se drie het gevolg op waarskynlik die opwindendste stukkie spel van die dag met die Cheetahs wat kruis en dwars oor die veld aangeval het. Watts het die skopwerk oorgeneem en die drie verdoel.

Vertroue in sy span se vermoë het Derick Minnie met ‘n kwartier se spel oor laat besluit om ‘n strafdoel kantlyn toe te laat skop en hy is daarvoor beloon deur die drie van sy losvoorspeler-vennoot, Willie Brits, ná nog puik dryfspel van die Leeus. Jantjies, wat Boshoff in tussen vervang het, se doelskop was mis. Ná ‘n strafdoel deur Watts en met 10 minute oor het Minnie weer vir Jantjies beduie om die kantlyn op te soek en ‘n minuut later het Ruan Dreyer oorgeduik om te druk. Jantjies se doelskop was weer mis en met die Cheetahs wat ‘n een-punt voorsprong gehad het was die tafel gedek vir ‘n spannende einde.

Die Leeus het met positiewe spel uit hul kwartgebied probeer kom, maar na ’n aanslaan deur Anthony Volmink een minuut voor die eindfluitjie was hul kanse daarmee heen. Hou gerus maar albei hierdie spanne dop, want met sulke positiewe rugby gaan hulle nog baie vriende maak en baie wedstryde wen in die volgende tien weke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.