Cheetahs klop die Stormers

In sekerlik die senutergendste kragmeting van die 2013 Super15 sover, het die Cheetahs hul segetog voortgesit en die Stormers met 26-24 in Bloemfontein geklop.

Burton Francis gaan waarskynlik ereburgerskap in die Rosestad kry nadat hy ‘n moeilike strafskop in die doodsnikke van die wedstryd deur die vertikale pale gejaag het om sy span te laat wen. Vir die Stormers sal hierdie nederlaag ‘n harde een wees om te sluk aangesien hulle slegs twee keer al die vreugdesvure kon aansteek in vanjaar se kampioenskap. Ná ‘n gesukkel in die lynstane en ‘n strafdoel deur die Stormers-heelagter, Joe Petersen, het die Cheetahs se Robert Ebersohn halfpad deur die eerste helfte sy span op die telbord geplaas toe hy in die hoekie gaan kuier het. Francis het die twee punte bygevoeg en die telling was 7-3. Dit het die Stormers bloot verder gemotiveer en hul hernieude druk het vir Juan de Jongh twee pragdrieë besorg en die halftydtelling op 15-7 te staan gebring.

Die Blikore het egter die tweede helfte met nuwe vuur afgeskop en nadat die Stormers se Elton Jantjies die Cheetahs-kaptein om die nek gegryp en gesweepslag het, het Francis die telling 15-10 gemaak. Die keerpunt het gekom toe die ewig opportunistiese Cheetahs-skrumskakel Sarel Pretorius sy Stormers-eweknie Nic Groom se skop afgestorm en gevang het en helfte van die veld ver gehardloop het om in die hoek te druk. Foute aan die Cheetahs se kant het Pietersen met twee strafskoppe laat slaag en die besoekers 21-17 voor geplaas. Francis het daarna met ‘n strafskop geslaag en tot groot vermaak van die Bloemtontein-skare ‘n skepskop van die halflyn af oorgeklits om sy span te laat voorloop. Heinrich Brussow was kort voor rustyd gestraf vir ‘n oortreding in die vastelos en Pietersen het die skop met volslae gemak deur die pale gejaag. Maar die stryd was nie gewonne nie en toe die Cheetahs met ‘n strafskop beloon is en Francis dit onder groot druk oorgeskop het, was Vodacom Park pure ekstase.

Die Cheetahs kan egter nie op hul louere gaan rus nie want hulle ontmoet die Bulls op Loftus Versfeld in Pretoria volgende naweek. Vir die Stormers raak dit ook nie makliker nie want hulle reis terug Kaap toe om die Sharks te pak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Diei Stormers-afrigters sal ernstige nabetragting moet hou oor hul span se vertoning tot dusver vandeesjaar en nuwe strategieë en planne moet beraam indien hulle vordering op die Super-15 punteleër wil maak. Dit blyk dat hul afrigtingsmetodes ietwat verouderd geraak het – die spel rugby het nuwe dimensies betree en enige span wat wil wen, moet byhou met die nuwe tendense.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.