Cheetahs klop Waratahs net-net

Die Cheetahs het die Waratahs met 27 – 26 in Sydney geklop, en drie drieë teen twee behaal.

Maar weer het die vierde drie vir ‘n bonuspunt die Cheetahs op hul Australasiese ekskursie ontglip. Die Cheetahs se ou, ou kwaal van besit vir die opponente skop het weer amper die Blikore gesink, want die Waratahs het die bal deurgaans sterk gedra. As die tuisspan nie so baie hanteerfoute gemaak het nie, sou die besoekers uit Biltongland sleg les opgesê het.

‘n Sitter vlak voor die pale wat Brendan McKibbin windskeef gelanseer het, kon die wedstryd baie maklik vir die tuisspan gered het.

Die Cheetahs is, wanneer bewegings van stapel gestuur is, soos klokslag in hul spore gestuit, en die suksesvolle lopies het meestal uit die gebroke spel gekom. Twee van die Cheetahs se drie drieë het gekom na die besoekers steekskoppies weer in die hande gekry het – soms wip die ovaalbal beter as die dobbelsteentjie.

Dit raak afgesaag om oor die Cheetahs se mamparraskoppe te skryf, maar net so bly dié skopgogga ook soos ‘n afgesaagde fufuzella vals note oplewer. Die dag gaan gou kom dat hierdie taktiek die Cheetahs weer teen ‘n veel swakker span as die Waratahs gaan laat harpuis ruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.