Cheetahs roer Kings in PE

Die Cheetahs het die Kings op laasgenoemde se tuisveld in Port Elizabeth getroef en gedoen wat hulle nie in hul vorige kragmeting in Bloemfontein kon doen nie naamlik ‘n bonuspunt vir vier drieë behaal.

Die eindtelling was 34-22 en die rustydtelling 13-12 in die Blikore se guns. Vir beide spanne was dit ‘n belangrike wedstryd met die Cheetahs wat die Super15-uitspeelrondes wil haal en die Kings wat die Suid-Afrikaanse houtlepel wil vermy en sodoende ook die promosie-relegasie-wedstryd teen die Lions. Beide spanne het in die eerste helfte effens klei getrap en klaarblyklik konserwatief gespeel om hul teenstanders eers op te som en swakplekke te identifiseer. Die Cheetahs het die leeue-aandeel van die balbesit en gebiedsvoordeel gehad, maar kon dit nie toe al in punte omskep nie.

Dit was egter net ‘n kwessie van tyd voordat die Cheetahs hul gebruiklike aanvalsritme gevind het. Nadat Demetri Catrakilis vir die Kings en Elgar Watts vir die Cheetahs die punte met hul skopskoene laat inrol het, het die Cheetahs-senter Johann Sadie die eerste drie van die wedstryd vlak voor rustyd gedruk. Die tweede helfte het vir groot opwinding gesorg met Sadie wat sy tweede drie gedruk het, en die skrumskakel Piet van Zyl en die potensiële Springbok Willie le Roux wat die vyfde rangleerpunt verseker het met hul drieë.

Die Kings se enigste drie is deur die plaasvervanger, Nicolás Vergallo, gedruk kort voordat die laaste sirene geloei het. Die Cheetahs het met hierdie sege die tweede plek in die Suid-Afrikaanse konferensie hul eie gemaak. Hulle kan egter glad nie oorgerus raak nie, want volgende week wag die voorlopers in hierdie konferensie, die Bulls, vir hulle in Bloemfontein.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.