Cheetahs stamp Kings-kroon skewer

Die Cheetahs het die Kings met 26-12 kaf gedraf op Vodacom Park in Bloemfontein, maar nie die allerbelangrike bonuspunt vir vier drieë verseker nie. Die rustydtelling was 15-9.

Die tuisspan was deurentyd in beheer en die Kings lyk asof hulle besig is om hul aanvanklike reputasie as onderskatte buiteperd te verloor. Hul aanvallende spel lyk bra verbeeldingloos, hul verdediging het reeds groot gate in die wedstryd teen die Bulls getoon en hul enigste angel blyk Demetri Catrakilis se skopvoet te wees.

Die Blikore was veral in die tweede helfte talle drieë kwyt omdat die TV-skeidregter nie kon bevestig of hulle die bal gedruk het nie. Indien daardie bevestiging wel gekom het, kon die eindtelling baie anders gelyk het.

Die Cheetahs se drieëvraat Raymond Rhule het vroeg in die eerste helfte reeds ore plat getrek en ‘n langafstand-drie gaan druk ná omgekeerde besit vir sy span.

Catrakilis het die telling kort daarna 5-3 gemaak, waarna hy en die Cheetahs se Burton Francis elk met nog ‘n strafdoel suksesvol was.

Die tuisspan se uithaler-flank Pieter Labuschagne het kort voor rustyd gaan druk danksy briljante hantering en visie deur die Cheetahs. Francis het die drie verdoel en Catrakilis het nog ‘n strafdoel voor rustyd oorgeklits.

‘n Taamlik saai tweede helfte is deur die Cheetahs oorheers en die verruklike vleuel Willie le Roux het gaan druk ná volgehoue druk.

Catrakilis en Francis het onderskeidelik nog drie en ses punte danksy strafskoppe bygevoeg.

Die Cheetahs kon allig eerder nog ‘n drie probeer druk het om die bonuspunt teen minder gedugte teenstanders te verseker. Hulle sal egter heelwat tyd hê om hul taktiese en strategiese besluitneming op te knap aangesien hulle ‘n loslootjie aanstaande week gaan geniet.

Die Kings sal teen die verbeterde Waratahs te staan kom.

Die Cheetahs is met hierdie wen tweede op die Suid-Afrikaanse konferensie se punteleer ná die Bulls en sesde op die algehele Super15-punteleer. Die Kings is steeds onderskeidelik laaste en tweede laaste op die hierdie puntelere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.