Cheetahs tem Rebels in Bloem

Riaan Smit van die Cheetahs

Die Rebels is druipstert teruggestuur Australië toe nadat die Cheetahs hulle met 34-16 afgeransel het nadat die halftydtelling slegs 10-6 was.

Net soos wat die reën swaar in Bloemfontein tydens die eerste helfte geval het, het dit drieë in die tweede helfte van die wedstryd gereën. Dit is die derde agtereenvolgende week wat die Cheetahs ‘n Australiese span geklop het nadat hy ook met die Force en Waratahs afgereken het. Afgesien hiervan het die Rebels verlede week boonop ‘n reuse-loesing by die Sharks gekry.

Die nat toestande het egter nie die spanne afgeskrik om die bal in hand te hou en te hardloop eerder as om te skop en te wag dat die ander span foute maak nie.

Burton Francis, wat ter elfder ure in Riaan Smit se plek as losskakel waargeneem het, het die Vrystaters se rekening ná sowat 15 minute geopen met ‘n strafdoel. James O’Connor het ook die Rebels se telling met ses punte laat opskuif voordat Hennie Daniller kort voor rustyd ná kenmerkende Cheetahs-aanvalspel in die hoekie oorgeduik het vir sy span se eerste drie.

Die gashere het die krane behoorlik oopgedraai in die tweede helfte en duidelik besef dat hul opponente nie die mees gedugte verdedigers is nie. Hulle het vier drieë deur onderskeidelik Willie le Roux, Raymond Rhule, Johann Sadie en Rayno Benjamin ingeryg om die bonuspunt en wen met tien minute oor te verseker.

Die besoekers het nietemin hul vernedering versag toe die slot Cadern Neville ‘n troosdrie kort voor die einde van die wedstryd gaan druk en O’Connor twee punte bygevoeg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.