Cheetahs welverdiende wenners in Bloem

Die Cheetahs het hulself asook die Bulls ‘n groot guns bewys deur die Reds oortuigend in Bloemfontein met 27-13 te klop.

Met hierdie sege het die tuisspan ‘n baie suksesvolle naweek vir Suid-Afrikaanse spanne afgesluit met net die Stormers wat die onderspit gedelf het. Die Reds het geen punte uit hierdie wedstryd verdien nie.

Nadat hulle verlede week teen die Hurricanes op hul tuisveld vasgeval het, het hul spel baie meer dringend en klinies vanaand gelyk. Hul verdediging was boonop heelwat beter met die Reds wat slegs een drie teen die einde van die wedstryd kon druk.

Die magtige Reds het straks na die Rosestad gereis en die Blikore onderskat weens hul nederlaag laas week. Maar soos enige span wat al hierdie seisoen teen die Vrystaters gespeel het, kan getuig, is hulle ‘n span wat nooit gaan lê nie en uiters kreatief en vasberade is. Hulle het elke Australiese span geklop waarteen hulle sover gespeel het.

Die Cheetahs-skrumskakel en speler van die wedstryd, Piet van Zyl, het sy vernuftigheid ten toon gestel en twee keer in die eerste helfte gaan druk. Die eerste drie het gekom nadat hy ‘n skop van die Wallaby-skrumskakel Will Genia afgestorm het en oor helfte van die veld genael het om in die hoekie te druk.

Die Cheetahs-losskakel Elgar Watts het een van die drieë verdoel en die res van sy span deur middel van strafskoppe aangeteken.

Die Bulls en Cheetahs is nou die vlagdraers vir Suid-Afrika in die Super15 en lê onderskeidelik tweede en sewende op die gekombineerde punteleer en eerste en tweede in die SA konferensie. Die Bulls is nou met 46 punte net ‘n kortkop agter die Chiefs op 48.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.