Chiefs is weer Super15-kampioene

Chiefs mede-kapteins Liam Messam en Criag Clarke Foto: superxv.com

Die Nieu-Seelandse Chiefs het hul Super15 suksesvol verdedig toe hulle met 27-22 oor die Brumbies in Hamilton geseëvier het.

Die halftydtelling was 16-9 in die guns van die Brumbies.

Heelwat Bulls- en Cheetahs-ondersteuners sal hulself verlekker in hierdie uitslag aangesien die Brumbies baie gelukkig was om in onderskeidelik die uitspeelrondes en laas naweek se halfeindstryd teen hierdie spanne te wen. Die rugbygode se seëninge het egter vandag opgedroog en hulle was behoorlik getroef in alle fasette van die spel.

Albei spanne se dissipline was swakkerig en het baie strafskoppe afgestaan, maar die Brumbies het hulself gekasty deur baie oortredings in hul eie helfte te begaan. Die gewoonlike akkurate Chiefs-skerpskutter Aaron Cruden het ’n powere skopdag beleef, maar het tog met kritieke skoppe geslaag.

Daarenteen het die Brumbies se Christian Leali’ifano weer geskitter en al sy span se punte aangeteken deur die enigste drie te druk en met ses pogings pale toe te slaag. Hy het kort voor halftyd die eerste drie van die wedstryd gedruk toe hy ’n bal gevang het wat deur die Chiefs aangeslaan is en daarna ore platgetrek het doellyn toe. Hy het dit verdoel en daarmee tesame nog drie strafskoppe deur die pale gejaag in die eerste helfte.

Cruden het self drie strafdoele oorgeklits om sy span binne trefafstand te hou.

Die Brumbies het nog fort gehou in die eerste helfte, maar die tweede helfte het beslis aan die Chiefs behoort. Nadat Leali’ifano met twee strafdoele geslaag het en Cruden een verbrou en ’n ander een oorskop het, het die All Black-losvoorspeler Liam Messam van agter ’n vaste skrum weggebreek en ondanks talle Brumbies-verdedigers se beste pogings oorgeduik vir sy span se eerste drie. Die skare en Chiefs-afrigtingspan se teleurstelling was tasbaar toe Cruden die doelskop verbrou het.

Met die Chiefs wat steeds 22-17 agter was, het hulle na hul volgende aanvalsrat oorgeskakel en die senter Robbie Robinson het ’n bres geslaan, die versneller stewig ingetrap en langs die pale oorgeduik. Cruden het die Chiefs vir die eerste keer in die wedstryd laat voorloop met sy suksesvolle doelskop. Cruden het die laaste wedstryd verseël met ’n strafdoel vanaf dieselfde merk vyf minute later ondanks ’n laat stormloop deur die Brumbies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

frikkie ·

Chiefs nommer 1 brumbies nommer 2 crusaders nommer 3 en bulls nommer 4

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.