Chiefs kry tuisfinaal ná naelbytsege

Die Chiefs sal hul titel as Super15-kampioene volgende week op hul tuisveld in Hamilton verdedig nadat hulle die Crusaders in die eerste helfeindronde geklop het.

Aaron Cruden

Die eindtelling was 20-19 en die halftydtelling 9-3.

Indien die Bulls die Brumbies vanmiddag op Loftus kan troef, sal die eindstryd ’n herhaling van die 2009-eindstryd wees. Die Bulls was daardie dag oortuigend baas met 59-17. Maar dit was op Loftus en die Bulls was die oorweldigende gunstelinge. Vanjaar is duidelik ’n ander saak.

Die Chiefs het vandag bewys hoekom hulle eerste op die algehele rangleer geëindig het en ook die huidige kampioene is. Nadat hulle vroeër vandeesmaand oortuigend deur die Saders geklop is en hulle op húl beurt weer in hul eerste kragmeting in Mei die pyp gerook het, was die Chiefs se verdediging vandag die deurslaggewende in ’n uiters gelykop stryd. Hul reuse voorspelers het ook die Saders gekarnuffel en hul spelbrekers het die voordeellyn deurentyd oorgesteek en waardevolle gebiedsvoordeel bekom.

Soos die telling aandui, het die eerste helfte se punte slegs uit strafskoppe bestaan met Dan Carter wat drie vir die Crusaders oorgeklits het en ook een verbrou het terwyl Aaron Cruden, wat homself as Carter se All Black-opvolger posisioneer, met sy enkele poging geslaag het. Albei spanne het min geskop en besluit balbesit en geduld is ’n wen-kombinasie.

Die Chiefs het in die tweede helfte die verdedigingskrane selfs groter oopgedraai en die Saders frustreer deur op te skiet en in hul gesigte te speel. Ná talle futiele pogings deur die Chiefs om die Saders se doellyn oor te steek, is die bal vir die verwoestende Lelia Masaga gegee. Hy het skuins in die verkeer in gehardloop en byna drie Crusaders harsingskudding op pad doellyn toe gegee vir die eerste drie van die wedstryd.

Kort daarna het Cruden – à la Stokkies Hanekom in gisteraand se stryd tussen die Lions en die Kings – die bal onderskep, ore platgetrek en onder die pale oorgeskuur vir sy span se tweede drie. Hy het dit self verdoel om die telling 20-9 te maak.

Maar die Canterbury-strydvaarders is nie verniet sewemalige Super-kampioene nie. Hulle het hulself teruggespeel in die Chiefs se helfte van die veld en die bal laat loop sodat Israel Dagg in die hoekie kon oorduik vir sy span se enigste drie. Carter se doelskop en ’n latere strafskop was die laaste punte van die wedstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.