China het onderneem om teen die einde van 2015 ten minste 2 000 klein steenkoolmyne te sluit in ‘n poging om die land se veiligheidstandaarde te verbeter.
Myne wat hierdeur geraak sal word is dié myne wat jaarliks ‘n uitset van minder as 90 000 ton het en nie aan veiligheidstandaarde voldoen nie. Myne wat gebaseer is op substandaard steenkoolhulpbronne waar ongelukke gereeld voorkom sal ook hierdeur geraak word, het China se kabinet Saterdag in ‘n verklaring gesê.
Nuwe steenkoolmyne met ‘n jaarlikse kapasiteit van minder as 300 000 ton sal ook nie meer goedkeuring ontvang nie.
Daar is gereeld ongelukke in China se myne, die dodelikste in die wêreld. Luidens die amptelike nuusagentskap, Xinhua, is altesaam 1 384 mense in 2012 dood in steenkoolmynongelukke. Opskerping van veiligheid het sterftes die afgelope paar jaar laat afneem, maar maatreëls word gereeld ignoreer. China het diep steenkoolreserwes en ongeveer 12 000 steenkoolmyne.