Chinese ballonvaarder deur Japannese gered

ballonvaarder 2

Xu Shuaijun

‘n Chinese ballonvaarder wat ‘n groep eilande probeer bereik het om China se aanspraak te beklemtoon, maar waarop beide China en Japan aanspraak maak, het Woensdag sowat 20 km van sy bestemming in die see beland. Hy moes deur ‘n Japannese patrollieboot uit die water gevis word.

Die drenkeling is hierna aan ‘n Chinese patrollieboot oorhandig.

Die eilande is al lank ‘n twispunt deurdat Japan, wat die eilande Senkaku noem, en China wat dit Diaoyu noem, beide daarop aanspraak maak. Boonop maak Taiwan wat die naaste aan die eilande geleë is ook daarop aanspraak.

China het die kwessie onlangs in ‘n krisis gedompel deur die lugruim eensydig by sy eie in te lyf.

Die eilande is onbewoon, maar die vermoede is dat daar olievelde in die omgewing kan wees.

Die ballonvaarder, die 35-jarige Xu Shuaijun, word in sy land as ‘n bedrewe ballonvaarder geag. Hy het onder meer die eerste mens geword wat die bedrieglike Bohaibaai suksesvol met ‘n warmlugballon kon oorsteek.

In ‘n boodskap wat hy in September op die sosiale webwerf, Weibo geplaas het, het hy sy planne bekend gemaak. Hy het geskryf: “Vlieg na Diaoyu en word ‘n Chinees met ‘n houding.” Hy het ook ‘n kaart van sy beplande roete van 360 km geplaas.

Turbulensie het egter ‘n stokkie voor sy planne om ‘n “Chinees met ‘n houding” te word gesteek, en hy moes druipstert deur die “vyand” gered word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.