Chinese man vas met perlemoen ter waarde van R12 miljoen

Die polisie in die Wes-Kaap het Donderdag in Sunset Beach, Table View, beslag gelê op perlemoen ter waarde van R12 miljoen.

Die polisie se blitspatrollie en honde-eenheid het inligting ontvang dat perlemoen by ʼn huis in Bailers Way gestoor word. Die lede het op die huis toegeslaan. “Hulle het die huis deursoek en op ʼn groot hoeveelheid perlemoen afgekom wat in verskeie vrieskaste gestoor was. Toerusting om dit te verwerk is ook op die toneel gevind,” het adjudant-offisier November Filander, woordvoerder van die polisie, gesê.

ʼn Chinese-man is in hegtenis geneem en moet binnekort in die landdroshof in Kaapstad verskyn op aanklagte van die onwettige besit van perlemoen.

“Een van die polisie se prioriteite is om toe te sien dat onwettige perlemoenhandel hokgeslaan word. Ons vra die publiek se samewerking om enige verdagte aktiwiteite aan te meld,” het Filander gesê.

Die polisie kan tolvry by 08600 10111 gekontak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.