Christa Steyn: Begrafnisreëlings bekend, Willie Strauss bring hulde

Anna-Retha Bouwer, Willie Strauss en Christa Steyn... vol grappies tot die einde.

Christa Steyn, die bekende pianis en liedjieskrywer, word Vrydag tot ruste gelê. Christa is Maandagaand by haar huis in Pretoria na ʼn jaarlange stryd teen kanker oorlede.

Haar troosdiens vind Vrydag om 11:00 vanuit die NG Kerk Pretoria-Oos plaas. Die kerk is geleë tussen die Universiteit van Pretoria en Afrikaans Meisies Hoër.

Maroela Media het die skrywer en kabaretsanger, Willie Strauss – wat ʼn baie goeie vriend van Christa was, gevra om vir haar ʼn huldeblyk te skryf:

“Ek sit nou al vir twintig minute voor die rekenaar om iets oor my vriendin Christa Steyn te skryf. Ek moet myself keer om nie woorde soos fenomenaal, briljant en amazing in elke sin te wil inspan nie. Sy is immers nie net ’n legende in die musiekbedryf nie, maar ook een van die nederigste mense wat ek ken en al mee saam gewerk het. Daarom pas al die groot woorde nie; nie omdat sy dit nie verdien nie, maar omdat sy net soveel meer as mentor en vriendin was.

As kind het ek Vrydagaande voor ons platespeler vasgenael gesit as dit tyd was vir Afrikaanse Treffers en saam gesing met liedjies soos Aan die einde van die reënboog, Eerste liefde en Geel madeliefies. Ek het daarvan gedroom om eendag saam met haar te kon werk en van haar liedjies te kon sing.

En eendag was daar kans om ’n onderhoud met haar vir Rapport Tydskrif  te doen. Christa was sku vir onderhoude en het nie maklik ingestem nie, maar ek het dit reggekry om haar in die onderhoud in te boelie. In die restaurant het ek senuweeagtig gewag dat sy opdaag. Ons het egter dadelik gekliek en so lank gepraat dat ek byna van die volgende onderhoud vergeet het. Daar, om die restauranttafel, het ons vriendskap en die pad wat ons saam geloop het, begin.

Ons het twee CD’s saam opgeneem, met die hulp van haar seun Douw, in die Studio of Note-ateljee wat daar van hulle huis af bedryf word. Ons het ook drie liedjies saam geskryf, waarvan Boom die laaste liedjie is wat Christa getoonset het. Dit was twee dae voor ons verjaardagbesoek aan vriende se wildsplaas waartydens sy die knop in haar bors ontdek het.

Christa het nuwe talentvolle kunstenaars in wie sy geglo het voortdurend ondersteun en sou alles doen om hulle te help. Sy het my aangespoor om meer lirieke te skryf en ek het ontsaglik baie by haar geleer. Sy het nie net die klavier bespeel nie, sy het die klavier se note laat praat en seker gemaak dat haar toonsetting met die unieke Steyn-akkoorde die lirieke ondersteun en laat sin maak. As begeleier kon mens nie help om na haar te staar nie: hoe sy met haar hele lyf die emosie uit die klavier haal, en tog was sy elke oomblik daar vir die sanger op die verhoog.

Daar was dae wat Christa baie siek was en soos enige mens mismoedig geraak het, maar sy het bly veg tot die einde toe. Sy het met die siekte saam gestap en die beste van haar situasie gemaak. Met haar unieke humorsin kon sy steeds die snaakse oomblik in elke situasie sien en waardeer. Sy het die land saam laat huil oor en glo in die sêding van Lize Beekman se ouma: “Die Here se genade is genoeg.” Christa het nog tot Maandagaand toe elke SMS, brief, oproep en Facebook-boodskap gelees en was oorweldig dat mense haar so lief kon hê. Dit het haar gedra op die soms moeilike pad wat sy geloop het.

Tjorts! Ek drink ’n sjerrie op jou, my Musiekengel. Al is dit vroeg, weet ek êrens is daar al ’n vliegtuig oor en is jou vlerke reeds in die mooiste konsertvere getooi vir jou nuwe reis na ’n hemelse konsert.” – Willie Strauss

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.