Die bekroonde pianis Christa Steyn is vanjaar by die 13de aflewering van Huisgenoot-Skouspel vereer. Christa is vereer met die tydskrif se gesogte jaarlikse toekenning vir Lewenslange Bydrae tot Afrikaanse musiek. Haar seun, Douw, het die prys namens sy ma, wat vroeër vanjaar aan kanker oorlede is, ontvang.
Nagenoeg 35 000 mense het die ses vertonings die afgelope twee naweke by Sun City bygewoon. Vanjaar se Huisgenoot-Skouspel is aangebied rondom die tema van nostalgie. Die alombekende nuusleser Riaan Cruywagen en die gewilde aktrise Lizz Meiring was die seremoniemeesters.
“Dit is vir my ʼn ongelooflike voorreg om hier te kans staan en die toekenning namens my ma te ontvang. Baie dankie Huisgenoot, baie dankie aan almal wat ons ondersteun het in ʼn regtige moeilike jaar. Ma – hierdie is vir jou, ek wens jy kon weet hoeveel mense se harte jy geraak het en ek wens jy kon self hierdie toekenning ontvang het. Mis jou,” het Douw tydens die geleentheid gesê.