Christa Steyn hou haar laaste konsert

Christa Steyn se “laaste konsert” het vir ʼn lag met ʼn traan gesorg. Sy is Vrydagoggend, op die dag wat sy haar 54e verjaardag sou vier, tot ruste gelê. Steyn is Maandagaand in haar huis in Pretoria oorlede ná ʼn jaarlange stryd teen kanker. Hoewel dit haar roudiens was, was die geleentheid ook ʼn viering van die impak wat sy, veral in die musiekbedryf, gemaak het.

Bekendes in die musiekbedryf, vriende, familie en bewonderaars het 11:00 by die NG Kerk Pretoria-Oos bymekaar gekom om hul laaste eer te betoon. Coenie de Villiers, Johan van Rensburg, Rina Hugo, Sonja Herholdt, Jannie du Toit, Lochner de Kock, Richard van der Westhuyzen, Arina de Witt, Sorina, Anneli van Rooyen, Manuel Escórcio, Willie Strauss, Helena Hettema en Mathys Roets was onder haar ‘musiekfamilie’ wat haar kom groet het.

“Sy was 54 jaar aan ons geleen. Dit laat ons met ʼn reusagtige leemte, maar ons kan berus in die feit dat sy nou by haar Verlosser is. Al is ons familieketting gebreek deur die verlies, weet ons dat dit eendag weer in die hemel verbind sal word,” het dr. Marina Strydom die diens, met dié boodskap van die familie, geopen.

Johan van Rensburg en Rina Hugo buite die kerk

Haar dogter Madeleen Grobler het die volgende huldeblyk aan haar ma opgedra: “My lewe het begin toe Ma my aanraak met Ma se hande. Hande vol liefde, vreugde en beskerming. Hande wat my styf vasgehou het en my trane weggevee het. Hande van ʼn ma wat moederlike vertroosting vir my gebring het. ʼn Rustende hand op my skouer in ʼn tyd van nood. Dié moederhande wat ek vasgehou het tot die dood. Vandag is swaar, want ek mis Ma só, maar ek weet Ma se hande gee liefde in die hemel daarbo. Ek is lief vir Ma en sal Ma weer eendag sien, want ons al twee is kinders wat die Here dien. Vir ander was Ma se hande musiekhande, maar vir my was dit moederhande.”

Douw Steyn het in sy huldeblyk geskryf: “Vandag sê ek vir Ma, my pêl, vennoot en leermeerster, baai vir ʼn ruk tot ons mekaar weer sien. Ek is lief vir Ma, maar Ma weet dit. Ma was vir my ʼn voorbeeld, nie net in wat ons gedoen en gedeel het nie, maar ook in hoe om respek te hê vir mense, hoe om dapper en die minste te wees. Ek weet nie of ek dit sal regkry nie, maar ek sal probeer. Sal Ma soek tussen die strykerlyne en die b5-akkoorde.”

Die bekende orrelis, Ockie Vermeulen, het deur die diens van Steyn se bekendste verwerkings gespeel, en talle na hul snesies laat gryp.

ʼn Emosionele De Villiers het hom goed van sy taak gekwyt om Steyn se bedankingsbrief te lees, wat sy geskryf het voor sy dood is. Tussen die opregte dankies het haar skerp humorsin ook uitgekom met haar pittige sêgoed… ʼn grapmaker tot op die einde.

Ná optredes van die Akustika-koor asook die Cantate-kamerkoor, is een van haar laaste treffers gespeel waarop sy, vir oulaas, ʼn staande ovasie gekry het.

Strauss het na die diens bewoë gesê: “Wat ʼn ongelooflike mooi diens, so tipies Christa.”

“Christa laat ʼn erfenis van musiek agter, musiek wat baie mense geraak het en gaan aanraak. Sy wou nie ʼn roudiens gehad het nie, sy het ʼn celebration gesoek,” het Strydom gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.