Christa Steyn oorlede

Sien ook Huldeblyke stroom in vir Christa Steyn

Christa Steyn Foto: Huisgenoot

Die bekroonde pianis Christa Steyn is Maandagaand na ʼn lang stryd met kanker oorlede.

Lydia Winchester, agent vir talle musikante in Suid-Afrika het bevestig dat Steyn omstreeks 20:00 na ʼn lang lyding by haar huis in Pretoria gesterf het. “Sy is nou in veilige hande,” het Winchester gesê. “Sy was een van ons land se beste pianiste.” Steyn is in Junie 2011 met kanker gediagnoseer. Sy sou op 15 Junie haar 54ste verjaarsdag gevier het.

Christa se chemoterapie is onlangs gestop na kanker deur haar hele lyf versprei het en sy was vir die laaste ruk bedlêend. Haar twee kinders, Douw Steyn en Madeleen Grobler, was aan haar sy.

“Koebaai my Musiekengel. Gaan jou so mis,” was die woorde waarmee die kabaretsanger, Willie Strauss, sy vriendin gegroet het. Talle huldeblyke stroom tans in op sosiale netwerke.

Steyn het gereeld saam met Jannie du Toit op die verhoog verskyn en was ʼn geliefde kunstenaar onder veral Afrikaanssprekendes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

engemi ferreira ·

My geliefde mens vol sterre, son en vreugde, jy wat jou seer so goed kon wegsteek. Ek wil vir jou somer bring, die wind, die see – want aan stilte sal jy nou genoeg hê; hoe kort was die tye saam met jou, maar hoe intens. Natuurlik sal ek jou mis, nes ek jou gemis het in die lang tye wat ons mekaar nie gesien het nie. Maar jy sal altyd naby my wees in die musiek wat jy agtergelaat het. Dankie vir jou lewe en die wyse waarop jy daardeur aan myne geraak het en my verruim het. Dankie vir jou humor, jou fyn sin van die menslike ewewig wat nie aldag maklik is om te handhaaf nie. Dankie vir die liefde wat jy so mildelik oor ons almal uitgestort het – al jou baie vriende. En dankie vir jou moed en uithou deur die lang seer. Mag die nagreis oor die Styx jou veilig tuis bring en dan RIV my hartsvriendin. Met liefde, engemi

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.