Christene by Mandela se huis weggewys

Mandela se huis in Qunu Foto: www.timesofmalta.com

Die polisie sal ‘n voorval ondersoek waartydens ‘n groep Christene Sondag by voormalige pres. Nelson Mandela se huis in Qunu in die Oos-Kaap weggewys is.

‘n Sapa-korrespondent het Sondagaand berig dat die polisie bevestig het hulle sal die voorval ondersoek. “Ek verstaan dat dit nie net oor die foto’s gehandel het nie, die twee kerke het in groepe opgedaag. Hulle was op die N2 naby die hek en nie binne die erf nie,” het lt.kol. Mzukisi Fatyela, woordvoerder van die polisie, gesê.

Die groepe is Sondag by die huis weggewys nadat hulle daar wou kom bid en hul ondersteuning wou betoon. Twee polisiebeamptes by die hek het die groep sendelinge van die Hervormde Kerk van Christus en die Apostoliese Geloofsending weggewys. Twee lede van die groep, wat foto’s van hulself buite die huis wou neem, is tydelik in hegtenis geneem en is in ‘n sekuriteitskamer by die hek aangehou. Dit het in ‘n hewige woordewisseling ontaard.

Een polisiebeampte het die groep glo beskuldig dat hulle die vryheid, waarvoor Mandela geveg het, verraai.

Fatyela sê hy het ‘n plaaslike polisiebevelvoerder oor die voorval uitgevra. “Die bevelvoerder het aanvanklik die voorval as ‘n klein dispuut oor die neem van foto’s afgemaak. Nadat talle navrae van die media ontvang is, het nuwe feite aan die lig gekom. Ek is van voornemens om met die bevelvoerder en beamptes, wat aan diens was, te vergader om hul verklarings af te neem,” het Fatyela gesê.

Ndaba Mandela, een van Mandela se kleinkinders, het aan Sapa gesê hy is geskok oor die voorval. “Dit is nuus vir my, waarom sal die polisie met lede van die kerk by die huis in ‘n woordewisseling betrokke raak? Dit maak nie sin nie,” het hy gesê.

Silumko Mandela (67), een van Mandela se familielede in Qunu, het gesê dit is algemene kennis in die dorpie dat Mandela se huis vir inwoners oop staan. “Wanneer ons vieringe het, kom die inwoners na die huis toe. Ek is verras oor dít wat vandag gebeur het.”

Nomzingisi Jonga (44), die vroueleier van die Apostoliese Geloofsending, ‘n ooggetuie van die voorval, het gesê hulle was naby die N2 wat ‘n uitsig op Mandela se huis bied. “Ons het hierheen gekom omdat ons Saterdagaand tydens ons nagwaak ‘n profesie ontvang het dat ons vir Madiba by sy huis moet bid. Nou word ons toegang verbied en word aangesê om nie voor sy hek te bid nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.