City Press gaan “The Spear” verwyder

Ferial Haffajee, redakteur van City Press

Ferial Haffajee, redakteur van City Press, het Maandag gesê dat hulle die omstrede skildery van pres. Zuma, The Spear, van hul webwerf sal verwyder.

Haffajee het in haar gesprek met John Robbie op Talk Radio 702 gesê dat sy binnekort ʼn artikel op hul webwerf sal plaas om die besluit te verduidelik. Volgens Haffajee het die voorval nou in ʼn “stryd” ontwikkel en die publikasie wil nie deel wees daarvan nie. Hulle wil graag fokus op versoening en om die situasie te ontlont.

Haffajee sê sy was Sondag besorg oor koerantverkopers se veiligheid nadat haar verslaggewer versoek is om ʼn National Union of Mineworkers (NUM)-vergadering te verlaat en verskeie City Press-koerante tydens protesoptogte verbrand is ná die ANC se versoek om die koerant te boikot.

Sy het bevestig dat sy die volle ondersteuning van haar bestuurders geniet en dat sy bereid sou wees om te bedank indien hulle dink dit is nodig. Daar was egter geen druk van haar bestuurders om die afbeelding weens besigheidsbelange te verwyder nie.

Haffajee sê die koerant het Sondag baie goed verkoop, buiten in die Limpopo-provinsie. Dit blyk dus dat die gewone lesers nie aan die boikot deelgeneem het nie. City Press sal egter eers oor twee weke finale getalle hê van hoeveel koerante Sondag verkoop is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.