Clifton-vistreiler: Owerheid en eienaars gaan vergader oor bergingskostes

Die Suid-Afrikaanse Maritieme Owerheid het Dinsdag gesê die eienaars van die Japanse vistreiler wat by Clifton se Eerste Strand gestrand was, sal Donderdag met die plaaslike owerhede vergader oor die bergingskostes.

Die owerheid het gesê die eienaars van die Eihatsu Maru kan met ‘n hofbevel gedwing word om die 40 ton vis aan boord van die treiler beskikbaar te stel as betaling. Die waarde van die vis word op sowat R6-miljoen rand beraam. Die koste van die operasie om die vaartuig terug in die see te kry, sal teen Donderdag bekend wees.

Die 50-meter lange vistreiler was ses dae sowat 20 meter van die kuslyn gestrand. Digte mis het glo daartoe gelei. Verskeie pogings om die treiler weer vlot te kry is deur slegte weer en sleeptoue wat twee keer gebreek het, in die wiele gery. Die treiler is uiteindelik Vrydag omstreeks 15:30 terug die see in nadat van die brandstof uitgepomp is om dit ligter te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.