Clifton-vistreiler: Reddingspoging hervat

Foto: Nasionale Seereddingsinstituut

Pogings gaan vandag voort om die vistreiler wat gister op Eerste Strand in Clifton gestrand het, terug in die see te kry.

Die 50-meter lange vistreiler het vroeg Saterdagoggend sowat 20 meter van die kuslyn gestrand.

Wilfred Solomon-Johannes, woordvoerder van die Kaapstadse rampbestuursentrum, het in ‘n verklaring gesê die ligging van die vaartuig het die potensiaal om die omgewing en die ekonomie van ‘n belangrike deel van die kuslyn te skaad. Na wat verneem word het die vaartuig 90 ton brandstof én ammoniak aan boord.

Dit is nog nie duidelik wat die ongeluk veroorsaak het nie. Die dik mis wat in die gebied voorgekom het, kon moontlik tot die voorval bygedra het. Gister is 19 van die 28 Taiwannese bemanningslede van die treiler verwyder. ʼn Hond, die kaptein en nodige bemanning is steeds aan boord.
Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut, het ʼn beroep op die publiek gedoen om nie die gebied te besoek nie, aangesien die reddingspoging voortduur en hulle so veel as moontlik spasie benodig.

Sien nog foto’s wat Saterdag geneem is hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.