Cobus Visser word onthou vir sy humor en menslikheid

Cobus Visser vertolk die rol van Brand Louw in die kykNet-reeks, Huis Lelieveld (Foto: Verskaf)

Cobus Visser, bekend as teater-, televisie- en rolprentakteur én boonop tegniese meester, is vanoggend in die ouderdom van 70 jaar oorlede.

Lizz Meiring het hierdie nuus op roerende wyse op Facebook gedeel: “Ek hoop hy besef, waar hy nou is, hoe lief die Suid-Afrikaanse gehore en die bedryf vir hom was. My hart het ʼn groot hap in. Ons loop ʼn pad van 35 jaar saam. Maar hy is verlos.”

Meiring het haar dank uitgespreek teenoor vervaardigers en akteurs, maar veral die personeel van Steve Biko-hospitaal waar Visser oorlede is, en die vervaardigers Pieter en Willie Esterhuyzen, wat Visser in Huis Lelieveld as akteur gebruik het. “Hy het dit so geniet om deel van Huis Lelieveld te wees. Sy laaste werkservaring met dié reeks het hom so gelukkig gemaak,” het Meiring op Facebook geskryf.

Cobus Visser vertolk die rol van Brand Louw in die kykNet-reeks, Huis Lelieveld (Foto: Verskaf)

Visser is tans in Huis Lelieveld, wat op kykNET uitgesaai word, te sien as Brand Louw. Die reeks is gedeeltelik nog in die verfilmingsproses. Mede-akteur Reginald Hufkie, wat die rol van Spanner Proes vertolk, vertel dat Visser se teenwoordigheid op die stel altyd gepaardgegaan het met humor. “Cobus is saggeaard, vriendelik en maak grappies. Hy lag saam met ons almal.” Hy voeg by dat Visser ander mense omarm: “Ek is ʼn newbie in die bedryf en hy het my met ope arms verwelkom.”

Visser was onder meer ook te sien in televisiereekse soos Onder draai die duiwel rond, Die vierde kabinet, Amalia, Villa Rosa en Binnelanders. In 1974 het Visser sy rolprentdebuut in Die square gemaak, waarna hy ook in Die storie van Klara Viljee, Oh Schuks … I’m gatvol!, Platteland en Die rebellie van Lafras Verwey gespeel het.

Simon Barnard, regisseur en mede-draaiboekskrywer van Die rebellie van Lafras Verwey, vertel dat Visser ʼn maklike akteur was om mee te werk. “Ek onthou dat daar ʼn toneel in die film was waar hy vinnig dialoog moes improviseer en hy het dit reggekry sonder om te sukkel.”

Katinka Heyns, wat jare lank saam met Visser gewerk het, bring veral hulde aan sy kundigheid. “Hy sou enigiets kon wees wat hy wou,” vertel Heyns en voeg by dat Visser op verskeie vlakke begaafd was en uitgeblink het. Nes Hufkie vertel Heyns dat Visser die vermoë gehad het om met mense te kon werk. “Ek het hom nooit ervaar as iemand wat onbeskof of kru is nie,” vertel sy. Visser was deel van hulle familie by Sonneblom Films en het ongeveer 20 jaar oorklanking vir dié produksiemaatskappy gedoen.

Leon van Nierop, wat Visser geken het en verskeie kere saam met hom gewerk het, beaam dat Visser ʼn droë maar skerp en intelligente sin vir humor gehad het. Hy bring hulde aan Visser se tegniese vernuf. “Hy was ʼn perfeksionis as oorklankingsingenieur en het die besondere vermoë gehad om die ritme van ʼn karakter oor te klank.”

Magda Beukes, jare lange vriendin van Cobus, word uit verskeie oorde geëer vir haar vriendskap met Visser. Sy was egter nie beskikbaar om haar huldeblyk met Maroela Media te deel nie.

Visser sal onthou word vir sy humorsin, nederigheid en die veelsydige bydrae wat hy tot die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf gelewer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Lizelda ·

Rus sag oom. Ekt hom veral geniet in Villa Rosa! Dis baie hartseer

sheryah ·

Dis ‘n berigwat geplaas is om ons in te lig dat Cobus oorlede is. Hoekom gee julle nie die rede van afsterwe nie?

Louis Cloete ·

Dit is met leedwese om te verneem van Cobus se afsterwe. Ons gaan jou mis ou grote!
Simpatie met familie en kollegas waarmee hy jare lank saam gewerk het. Leemtes word nie maklik gevul nie!

Cloetes – Pretoria

Janneman ·

Dankievir als wat jy vir ons gedoen het. Jy sal gemis word.

Manna ·

Ons het nog ‘n grote verloor RIV Kobus. Het jou spel altyd geniet

Morne ·

RIV. Hy is juis nou tans te sien in herhalings van Egoli op kanaal 145.

Heksie ·

en so gaan hulle ons voor uit … RIV oom, jy het my altyd laat lag …

Sonja Alberts ·

My hartjie is baie seer is 41’jr oud maar my oorlede Ma het my van Afrikaanse flieks geleer ek ken Oom Cobus van Fiela se kind se tyd.Sien uit om hom vir die laaste keer op TV te sien.Oom Cobus Oom laat n groot leemte in die Afrikaanse TV.

Gesiggie ·

RIV… Oom Kobus, jou sin vir humor was altyd daar… jy los n leemte in ons Suid – Afrikaanse harte”

Pieterbusa ·

Dis hartseeer. Nog een van die Grotes. Maar die rede vir my skrywe gaan eintlik oor die opskrif van die berig. Dit is baie treffend. Laat my dink, waarvoor sal ek onthou word?? Dan besef ek, dit is nooit te laat om ‘n verskil te maak nie.

Agter die skerms ·

Cobus Visser – ek kan nie wag vir die eerste episode van Huis Lelieveld wat hierdie week gebeur nie – en nou gaan ek dit met nog groter waardering kyk. RIV Cobus.

SjN ·

Puik akteur gewees, altyd lekker gelag vir sy humoristiese segoed, RIV my oompie.

Scalla ·

Jammer om te hoor, laat my altyd dink aan die kulkunstenaar wat sy horlosie stukkend geslaan het in die een fliek as ek hom sien, komiese karakter gewees. Sterkte aan sy mense.

Fanus Bothma ·

Ai, ou Cobus! Nog ‘n GROTE in ons Afrikaansteater en fliekwese het geval! Wat ‘n gemis! Dankie dat ek jou talente kom meemaak as medestudent by Tukkies sowat 50 jaar gelede, en ook toe ek by TRUK as skakelmens werksaam was. Jou humor was kosbaar! Met hartseer, Fanus Bothma, nou van Kaapstad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.