Coke en Pepsi verander ná 100 jaar

Coca-Cola en Pepsi het Vrydag aangekondig dat hulle die vlakke van ʼn chemiese stof wat in karamelkleursel voorkom, sal verlaag, om aan ʼn Kaliforniese wet te voldoen. Die twee maatskappye het egter bevestig dat dié twee bekende koeldranke geen gesondheidsrisiko inhou nie, en dat hul resepte nie sal verander nie.

Sonder die veranderinge sal die maatskappye ʼn kankerwaarskuwing op hul produkte moet publiseer na aanleiding van ʼn uitspraak in Kalifornië dat hoë vlakke van 4-methylimidazole (4-MEI) kanker in laboratoriumrotte veroorsaak het. Beide die koeldrankvervaardigers het gesê dat die gewilde resepte nie beïnvloed sal word nie, maar dat karamelverskaffers versoek is om seker te maak dat 4-MEI-vlakke verlaag word.

“Ons verander NIE ons resep of ons formule nie,” het Ben Sheidler, woordvoerder vir Coke, aan AFP in ʼn e-pos gesê. “Wat ons wel gedoen het is om ons karamelverskaffers aan te sê om die vlakke van 4-MEI in ons karamel te verlaag sodat ons aan die vereiste van die staat van Kalifornië kan voldoen.”

Volgens Pepsi “was en is hul koeldranke nog altyd veilig vir inname”. “Verbruikers sal nie eers die verskil in ons produkte agterkom nie en sal geen rede tot kommer vir hul gesondheid hê nie. Daar is geen wetenskaplike bewyse dat 4-MEI in voedsel en koeldranke ʼn bedreiging inhou vir menslike gesondheid nie,” het die maatskappy bygevoeg.

Leiers in die koeldrankbedryf, insluitend die American Beverage Association (ABA) het gesê dat die bewyse dat 4-MEI kanker in mense kan veroorsaak is tot een studie in muise beperk en word nie deur groot Amerikaanse, Europese of Kanadese gesondheidsagentskappe erken nie. Die ABA het bygevoeg dat ʼn persoon ʼn geweldige hoeveelheid kola moet drink om dieselfde risikovlak te bereik as wat aan die muise toegedien is. ʼn Persoon sal bykans 2 900 blikkies kola elke dag vir sowat 70 jaar lank moet drink – en dit het as die basis vir die uitspraak in Kalifornië se besluit gedien.

“Die wetenskap bewys nie dat 4-MEI in voedsel of drankies ʼn bedreiging inhou vir menslike gesondheid nie,” het die ABA gesê. “Om die waarheid te sê, bevindinge van regulerende agentskappe wêreldwyd, insluitend Amerika se Kos en Dwelmadministrasie (USFDA), Europa se Owerheid oor Voedselveiligheid (EFSA) en Gesondheid Kanada (HC) reken dat karamelkleursel veilig is om in voedsel en drankies te gebruik.”

Coca-Cola is nou 126 jaar oud, en sy voorloper het as medisyne die mark getref. Sedert in ’n koeldrank omskep is, is die resep bykans onaangepas, en bly ’n groot geheim. Pepsi het kort hierna, in 1890 op die mark verskyn, en was aanvanklik ook ’n medisyne, spesifiek vir teen maagpyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.