Ludwick Mamabolo (35), vanjaar se Comrades-wenner, mag moontlik sy titel kwyt wees indien hy deur ʼn onafhanklike tribunaal skuldig bevind word dat hy verbode stimulante gebruik het.
Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (SAIDS) het Dinsdag in ʼn verklaring gesê dat Mamabolo positief getoets het vir metielheksaanamien. Hy kan vir twee jaar uit atletiek geskors word en sy titel verloor, hangende die bevinding van die tribunaal.
Sy wentyd op 3 Junie was 05:31:03. Dit is sowat 11 minute stadiger as die Rus Leonid Shvetsov se rekord.
Volgens Khalid Galant, uitvoerende hoof van die SAIDS, was Mamabolo die eerste Suid-Afrikaner wat die Comrades in sewe jaar kon wen. Hy het gesê al 20 goue medaljewenners is vir verbode middels getoets. Galant het voorts gesê verbode stimulante soos dié waarvoor Mamabolo positief getoets is, gee aan atlete ‘n verhoogde wakkerheidsvlak, energie, euforie en kan moegheid onderdruk.
As Mamabolo skuldig bevind word sal die titel aan die naaswenner, Bongmusa Mtehembu, gaan. Hy is ook ʼn Suid-Afrikaner.
Die Comrades Marathon Assosiasie het hul teleurstelling hieroor op Twitter uitgespreek. “Ons bevestig dat die Comrades-wenner, Mamabolo, positief vir ʼn verbode middel getoets het en ons is baie teleurgesteld,” het hulle gesê.