COP 17: Zuma vra vir bevestiging van Kyoto-protokol

Greenpeace-vrywilligers plant 'n windturbine op 'n strand in Durban voor die opening van COP 17. Foto: Shayne Robinson/Greenpeace/SAPA

President Jacob Zuma het ʼn beroep gedoen op afgevaardigdes by COP 17, die Verenigde Nasies (VN) se konferensie oor klimaatsverandering, om te werk vir ʼn uitkoms wat “gebalanseerd, regverdig en geloofwaardig” is en om die Kyoto-protokol te bevestig.

Zuma het Maandagoggend tydens die opening van COP 17 in Durban ʼn beroep gedoen op afgevaardigdes om die nodige fondse beskikbaar te stel aan ontwikkelende lande om die impak van klimaatsverandering aan te spreek. Hy sê dit kan gedoen word deur die sogenaamde Groenfonds in werking te stel, waarvolgens ontwikkelde lande 100 miljard Amerikaanse doller per jaar beskikbaar maak teen 2020. Zuma sê daar moet ook toewyding wees vir ʼn tweede periode vir die Kyoto-protokol. Zuma het gewaarsku dat veral Afrika kwesbaar is vir klimaatsverandering, nie net as gevolg van vloede en droogtes nie maar ook as gevolg van armoede, “wat lande se vermoë om klimaatsverandering te hanteer aansienlik verminder”. Die konferensie is Maandagoggend vertraag met Zuma wat sowat ʼn halfuur laat was. Die konferensie, wat op 9 Desember eindig, het ten doel om die uitlating van kweekhuisgasse sodoende te verminder ten einde ʼn styging van meer as 2°C in die gemiddelde wêreldtemperatuur te voorkom. Kyoto is in 1997 aanvaar en het in 2005 in werking getree. Volgens die Kyoto-protokol verbind die meeste ontwikkelde lande hulle tot bindende teikens vir die beperking van kweekhuisgasse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.