Corlea Botha sing spesiale lied vir Wiehan se ouers

Die sangeres Corlea Botha gaan Vrydagaand spesiaal vir die Botes-egpaar tydens ʼn nagwaak sing ná hul vyf-maandeoue seuntjie, Wiehan, vroeër die week verwurg is.

Wiehan en sy dagmoeder Magrietha de Goede (66) is Woensdag in Delmas in De Goede se huis vermoor. Die gemeenskap hou Vrydagaand om 19:00 ʼn nagwaak by De Goede se huis waar mense hul eerbetoon kan gaan wys. Mense is op sosiale netwerke Facebook en Twitter aangemoedig om vanaand om 19:00 by Geldenhuysstraat 19, Delmas, met ʼn kers en ʼn blom bymekaar te kom en saam te staan teen misdaad.

Botha het aan Maroela Media gesê sy is in Delmas gebore en die voorval het die hele gemeenskap, wat sy na aan haar hart dra, geskok en geruk. Sy het gesê sy het ook familie wat daar woon, skaars ʼn blok vanwaar die gruweldaad plaasgevind het.

“Deur die nagwaak te hou wil ons vir die ouers wys ons as gemeenskap is daar vir hulle, ons gee om en ondersteun hulle. Wat gebeur het, is verskriklik hartseer en ons hoop die bystand kan ʼn bietjie vertroosting bring,” het Botha gesê.

Sy gaan vanaand vir die Botes-egpaar ʼn spesiale liedjie van bemoediging sing.

Botha en ander bekendes gaan ook binnekort op 19 Junie aan ʼn vreedsame optog teen geweld in Pretoria deelneem. Die sangers Bobby en Karlien van Jaarsveld se ma, Ronel Brink, reël die optog vir Wiehan en ander misdaadslagoffers. “Ons het te lank stil gesit en stil gebly. Dit is tyd dat misdadigers en die regering sien ons staan saam te misdaad en dat ons nou genoeg gehad het,” het Botha gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.