Corrie het dapper gesterf

Corrie Sanders, net nadat hy Wladimir Klitschko in Maart 2003 uitgeklop het, en die WBO kampioen geword het.

Die polisie was Sondagaand steeds op soek na die persone wat voormalige swaargewigbokskampioen, Corrie Sanders, by ‘n restaurant in Brits doodgeskiet het.

Brig. Thulane Ngubane, woordvoerder van die polisie, het gesê hulle ondersoek sal tot die inhegtenisname van die verdagtes, wat Saterdagaand by die Thatch Haven Country Lodge ingebreek het, lei. Die rowers het klante by die restaurant van hul persoonlike besittings beroof en skote gevuur. Sanders is in dié voorval gewond.

Die 46-jarige bokser was by die restaurant om sy broerskind, Michael Sanders, se 21e verjaardagpartytjie te vier, toe die rowers opgedaag en lukraak begin skiet het. Volgens Mike Sanders, Corrie se broer, was 48 lede van die familie bymekaar om die verjaardag te vier, berig Beeld.

“Ons het omstreeks 19:00 klaar gebraai en was reg om te begin eet,” het Mike gesê. “Corrie, Marinique en my middelste seun, Morné (19), het opgestaan om te gaan inskep. Hulle het verby die ingang van die boma gestap en die volgende oomblik het vier of vyf skote geklap. Drie gewapende mans het ingestorm en geskreeu ons moet plat lê en ons selfone en beursies uithaal,” het hy bygevoeg. Morné het onder die kostafels ingespring en Corrie het platgeval en bo-oor sy 15-jarige dogter, Marinique, gaan lê. “Maak of jy dood is, my kind,” het Corrie glo vir haar gesê.

“Hulle het seker 30 skote geskiet; dit was soos ’n oorlog. Ek kon nie glo wat gebeur nie,” het Mike bygevoeg. ’n Motoralarm het afgegaan wat die rowers glo laat skrik het, en hulle het gevlug. “Dit het skielik net stil geraak. Eers toe Corrie bly lê, het ons besef hy is geskiet. Een van die koeëls het dwarsdeur sy regterarm gegaan en hom in die maag getref.”

“Corrie was ’n held vir die wêreld en hy is as ’n held dood, want hy het my kind se lewe gered,” het Sunette Sanders (47), sy voormalige vrou, gesê. Sy was by toe hy geskiet is. “In die ambulans het Corrie die hele tyd vir my gesê ek moet die kinders huis toe vat, want hy wil nie hê hulle moet hom só sien nie.”

Die polisie ondersoek ‘n klag van moord.

Intussen stroom huldeblyke op sosiale netwerke soos Twitter in:

Lennox Lewis (@LennoxLewis): “Aan my vriend Corrie Sanders. Mag jy in vrede rus, broer.”

Zwelinzima Vavi (@Zwelinzima1): “Bid asseblief vanaand vir Corrie Sanders se gesin en alle slagoffers van misdaad”

Heyneke Meyer (@heyneke_ meyer): “RIP Corrie Sanders – aaklige nuus – hoekom het soveel mense so min agting vir lewe! Dit maak iets soos rugby nietig”.

Kurt Darren (@KurtOfficial): “Ek is hartseer, my gholf partner en ’n baie goeie man met ’n reusehart, Corrie Sanders, is hemel toe vanoggend. Rus in vrede, Corra.”

AB de Villiers (@ABdeVilliers17): Skokkende nuus oor Corrie Sanders se afsterwe. Gaan jou mis, Corras.”

John Smit (@JohnSmit123): “Nog ’n sinlose lewensverlies in SA. RIP Kampioen.”

Roland Schoeman (@Rolandschoeman): “Kan nie in woorde beskryf hoe hartseer ek is om te hoor van die sinnelose moord van my vriend Corrie Sanders nie. #RIPCorra.”

Cameron van der Burgh (@Cameronvdburgh): “RIP Corrie. ’n Kampioen van die wêreld.”

Ryk Neethling (@rykneethling): “Te hartseer vir woorde. Rus in vrede, Corrie.”

Darren Simpson (@WhackheadS): “RIP Corrie Sanders. Jy was werklik ’n wonderlike man met ’n uitstekende humorsin. Jy het dapper gesterf!!!”

Sanders het die WBO swaargewigtitel in Maart 2003 verower nadat hy Wladimir Klitschkho, van Oekraïne, in die tweede rondte uitgeklop het. Die linkshandige Sanders, ook bekend as ‘The Sniper’, het 46 keer in sy professionele loopbaan geboks, en slegs vier keer verloor. 31 van dié oorwinnings was met ‘n uitklophou.

Hy het in 2008 afgetree nadat hy teen mede-Suid-Afrikaner, Osborne Machimana, uitgeskakel is. Sanders, ‘n suksesvolle sakeman, het sy bokshandskoene vir ‘n golfstok verruil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

frikkie ·

Almal wil vertel hoe die blankes dapper sterf, maar niemand wil vertel hoe om dapper te veg vir ons kinders se toekoms nie.

melanie scott ·

Rip Corrie jy is soos die ander,maar net weer ‘n nommer wat in die nuwe SA geen verskil maak nie, die doodstraf is al wat misdaad (veral moodenaars)gaan twee keer laat dink voor hulle moor,maar in die land wat eens reg was is verkeerd,wat verkeerd is is reg,waneer Mnr die President gaan jy werklik sien wat aangaan,onskuldige mense wat boet vir hul lewe deur geweld,’n pa,eggenoot,vriend,seun,wat se lewe verkort is.soos die ander 180 000.plus is Corrie Sanders net nog ‘n nommer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.