Cosatu-betoging: Dié paaie word geraak

Cosatu sal Donderdag ʼn optog hou met motors op Gautengse hoofweë in protes teen die omstrede e-tolstelsel.

“Ons gaan nie die keer met ons voete marsjeer en demonstreer nie; ons gaan met ons wiele betoog,” het Phutas Tseki, voorsitter van Cosatu in Gauteng, Woensdag aan verslaggewers gesê. “Ons gaan stadig ry. Ons gaan dit vir amper sewe ure doen.” Cosatu het ʼn beroep gedoen op motoriste om Donderdagoggend 6:00 onderskeidelik op die hoek van Black Reef- en Masakaneweg in Ekurhuleni en in Jorissenstraat in Johannesburg bymekaar te kom. Die optogte sal op van die provinsie se besigste hoofweë gehou word. Die N1, M2, M1, N3, N12, R24 en R21 sal geraak word.

Die betoging in Johannesburg sal vanaf Jorissenstraat na Harrison- na Wolmaransstraat beweeg en dan op die M1-noord. Die betoging sal hierna tot by die Buccleuch-wisselaar beweeg en dan na die N1-suid. By die Diepkloof-wisselaar sal die konvooi van die M1-noord na die Crown-wisselaar beweeg na die M2-oos en by die Rissikstraat-afrit afbeweeg. Dit sal dan deur die middestad beweeg tot by Andersonstraat, Sauerstraat, oor die Queen Elizabethbrug en dan terug na Jorissenstraat.

Die konvooi in Ekurhuleni sal omstreeks 9:00 by die N3 aansluit by Heidelbergweg en dan noord beweeg op die N3, N12, R24 en R21 na die Nelmapius-afrit in Centurion en dan weer terug suid met die R21, N12-wes in die rigting van Johannesburg en weer terug op die N3.

Dumisani Dakile, Cosatu se Gautengse sekretaris, het ʼn beroep gedoen op motoriste wat by die betoging wil aansluit om met hulle hoof- en noodligte aan te ry. “Dit is die eerste keer wat ons op ʼn hoofweg gaan betoog met motors.” Dakile sê indien die regering nie aan hulle eise gehoor gee nie sal hulle tydens ʼn volgende betoging die hoofweë vir 24uur sluit en selfs vir ʼn week indien dit nodig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

san ·

Dis goed om te betoog, maar wat van die ouens wat nie ‘n geldjie in die hand gestop gaan word by maandeinde nie? Veral die wat deur daardie weë werk toe MOET gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.