Cosatu-leier vrees glo vir sy lewe

zwelinzima vavi

Zwelinzima Vavi, uitvoerende hoof van Cosatu, vrees glo vir sy lewe en het sy persoonlike sekuriteit opgeskerp, het hy Maandag aan Eyewitness News gesê.

“Ek is bang. Die inligting het drie jaar gelede aan die lig gekom en dit wil voorkom of die mense wat die dreigemente uitgereik het, steeds op ʼn missie is om dit uit te voer,” het hy gesê.

Hy het aan die radiostasie gesê hy het in 2010 doodsdreigemente ontvang toe hy inligting ontvang het dat hy dieselfde noodlot in die gesig sal staar as die voormalige adjunk minister van gesondheid, dr. Molefi Sefularo. Sefularo is in 2010 in ʼn motorongeluk in Pretoria oorlede. Vavi het glo gesê die ongeluk is “beplan”.

“Die dreigement is by die ministerie van die polisie ingedien, maar daar het tot dusver niks daarvan gekom nie,” het hy gesê.

Intelligensiebeamptes het verlede jaar, direk ná vakbondfederasie Cosatu se verkiesingskongres, vir hom gesê daar is ʼn sameswering deur Iranese om hom te vergiftig. “Hulle het gesê die komplot het sy oorsprong in die Iranese intelligensiediens en dat iemand van die nie-regeringsorganisasie saam met wie ons, as Cosatu, werk, deur Iranese aangestel is om my te vergiftig.”

Vavi weet egter nie waarom die Iranese hom sou wou doodmaak nie, want Cosatu en die land het goeie verhoudings met Iran.

“Dis al maande later en intelligensiebeamptes het nog nie terugvoer aan my gegee nie,” het hy verder aan Eyewitness News gesê.

Vavi staar ʼn interne ondersoek oor beweerde korrupsie in verband met die verkope van Cosatu se hoofkantoor in die gesig.
-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

NET SY EIE TRAWANTE WIL HOM DOOD HE, GEEN ANDER POLITIEKE PARTY SAL VOORDEEL TREK BEHALWE DIE 3 PARTY ALLIANSIE NIE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.