Cosatu: ‘Moenie e-tolskyfies koop nie’

Die vakverbond Cosatu het Gautengse padgebruikers aangemoedig om nie e-tolskyfies te koop nie nadat die hooggeregshof in Pretoria Donderdag ʼn aansoek om die projek te skrap van die hand gewys het.

“Moenie registreer nie! Moenie e-tolskyfies koop nie!” het Cosatu in ʼn verklaring gesê. Patrick Craven, woordvoerder van Cosatu, sê hulle is teleurgesteld in die uitspraak en sal voortgaan met hulle protesaksies teen die omstrede e-tolstelsel. Craven sê Cosatu sal ook die parlement nader oor die kwessie. Regter Louis Vorster het vanoggend in sy uitspraak gesê die basis van die Bondgenootskap Teen Stedelike Tol (Outa) se aansoek, dat daar nie voldoende openbare deelname aan die proses was nie, was gebrekkig. Outa is ook beveel om die regskostes te betaal. Rob Handfield-Jones, ʼn aktivis teen die e-tolstelsel, het ʼn beroep gedoen op motoriste om nie toltariewe te betaal nie. “Die stelsel maak staat op vrywillige nakoming…Dit sal onmoontlik wees om miljoene oortredings per maand te vervolg.” Die regering en die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het die uitspraak verwelkom en ʼn beroep gedoen op motoriste om e-tolskyfies te koop.

Die hersieningsaansoek het gevolg nadat regter Bill Prinsloo op 28 April vanjaar ʼn interdik teen die implementering van die e-tolstelsel toegestaan het. Die aansoek is deur Outa gebring. Sanral en die tesourie het teen die hofbevel geappelleer. In September vanjaar het die grondwethof die interdik ter syde gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hein ·

Outa moes ‘n dubbel stratagie toegepas het. Een van onvoldoende publieke deelname en dat slegs 20% van die fondse wat ingesamel word, aangewend sal word om die skuld te delg. Die ander 80% gaan uit die land uit vloei.
Soveel vir “Koop en ondersteun Suid Afrikaans”
Hulle sal maar intussen my rekening per geregistreerde pos moet aanstuur

Paul Joubert ·

Hein, so as 20% vir die paaie aangewend is en 80% het na ‘n maatskappy met Suid-Afrikaanse aandeelhouers gegaan, was dit OK?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.