‘Cosatu moet standpunt oor regstelaksie in hof stel’

Die vakbond Solidariteit het vandag ʼn uitnodiging aan Cosatu in die Wes-Kaap gerig om sy standpunt rakende regstellende aksie in die arbeidshof in Kaapstad te stel wanneer die vakbond se regstellendeaksiesaak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD) in Julie hervat word.

Solidariteit sê Cosatu is ʼn belangrike rolspeler in die Wes-Kaap en sy standpunt moet deur die hof gehoor word. “Cosatu in die Wes-Kaap se standpunt dat die nasionale rassedemografie nie in die Wes-Kaap toegepas kan word nie, is in teenstelling met die standpunt van Popcru, ʼn Cosatu-geaffilieerde vakbond. Die hof moes verskeie kere tydens die hofsaak hoor dat Popcru die regstellendeaksieplan van die DKD ondersteun en dat dit met Popcru onderhandel is. Die steun van Popcru is een van die staat se sterkste argumente in die hofsaak.”

Solidariteit sê Cosatu Wes-Kaap se standpunt is ook teenstrydig met die manier hoe die regering regstellende aksie toepas. Die staat het vir agt dae in die hof gedurende kruisondervraging die toepassing van die nasionale rassedemografie in die Wes-Kaap verdedig.

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, sê dit sal ʼn kragtige boodskap wees indien Solidariteit en Cosatu in die hof saamstem dat die regering se benadering tot regstellende aksie, naamlik dat die nasionale rassedemografie in elke werkplek, selfs op provinsiale en streeksvlak, weerspieël moet word, irrasioneel en verkeerd is. “Dit sal ʼn duidelike boodskap stuur dat daar nie rasseverdeeldheid is met betrekking tot hierdie saak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.