Cosatu ontken hy het Vavi-klagstaat uitgelek

Zwelinzima Vavi Foto: Werner Beukes/SAPA

Zwelinzima Vavi Foto: Werner Beukes/SAPA

Cosatu het Saterdag ontken dat hy Zwelinzima Vavi, die geskorste leier van die vakbondfederasie, se klagstaat aan die media uitgelek het.

“Ons daag enigiemand uit wat sulke bewerings maak om dit óf te staaf óf terug te trek,” het Patrick Craven, woordvoerder, in ʼn verklaring gesê. “Cosatu was nooit van plan om die media in te lig oor die klagtes nie, maar was gedwing om dit te doen nadat die inligting reeds uitgelek het en deur ander gepubliseer is.”

Vavi het Saterdag op Twitter gesê die uitlek van die klagstaat is ʼn ernstige skending van sy regte. “Dit is ʼn poging om my in die media te verhoor en dat die bewerings my reputasie skade sal berokken,” het Vavi gesê.

John Dludlu, Vavi se woordvoerder, het gesê Vavi voel hy word onregverdig behandel. “Net soos sekere besonderhede van die forensiese ondersoek teen hom al die afgelope vyf maande van sy onwettige skorsing uitgelek het, glo ons dat die rede waarom die klagstaat nou uitgelek het, ten doel gehad het om hom in die media te verhoor en dat sommige, indien nie al die saamgeflanste klagtes nie, soos modder teen hom sal klou,” het Dludlu gesê.

Die Mail & Guardian het Vrydag berig dat die leierskap van Cosatu Vavi sonder enige kennisgewing wil afdank. Die koerant het gesê hy beskik oor die 33 bladsy lange klagstaat gedateer 13 Januarie 2014. Die klagstaat is verlede week op Vavi bedien, vyf maande nadat hy op spesiale verlof geplaas is.

Volgens die verslag staar Vavi nege aanklagte in die gesig:
– Aanstelling van die junior Cosatu-werknemer sonder om deur die betrokke kanale te gaan
– Verhouding met die Cosatu-werknemer
– Omskakeling van junior na permanente werknemer
– Toesig van die vrou met wie hy glo ʼn verhouding gehad het (beweerde versuim van Vavi om toesig te hou oor haar werksprestasie wat glo tot reiskoste van R483 737 in 2012 en R778 624 in 2013 gelei het waarvoor daar nie rekenskap gegee kan word nie)
– Verspreiding van interne griewe en reaksie op Twitter voordat Cosatu die griewe kon aanhoor
– Persoonlike uitgawes en persoonlike reiskoste wat met ʼn Cosatu-kredietkaart betaal is
– Bewerings in ʼn Carte Blanche-onderhoud dat die administratiewe sekretaris van Cosatu ʼn onderhoud gevoer het met die junior werknemer vir haar posisie
– Breuk van skorsingsvoorwaardes
– Neerhalende uitlatings oor Cosatu en sy leierskap, insluitend ʼn verklaring, waarin Vavi die motief vir sy skorsing bevraagteken, wat op Numsa se webwerf gepubliseer is kort nadat hy geskors is

Dludlu sê Vavi het gehoop dat die land deur die “kwaadwillige agenda” sou sien. “Die onus berus op die persoon wat die bewerings gemaak het, om dit te staaf,” het Dludlu gesê. “Mnr. Vavi bly onskuldig totdat hy skuldig bevind word.” Vavi hou vol hy is onskuldig en is vol vertroue dat hy vrygespreek sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.