Cosatu gaan sy massaprotesaksie teen die omstrede e-tolstelsel vandag weer voortsit.
Vandag se “stadigry-betoging” en optog begin om 7:30 by die ou Putco-busdepot in Marabastad, Pretoria. Van hier sal die konvooi en betogers na Strubenstraat beweeg, dan suidwaarts in Sisulustraat en ooswaarts in Francis Baardstraat. Die konvooi en betogers sal by die McDonalds by die koeksister-kruising bymekaar kom waar die optoggangers in hul motors sal klim en die konvooi op die N4-hoofweg sal beweeg tot by die N1-afrit na Johannesburg, dan na die R21-afrit na Johannesburg. Die konvooi sal by die Nelmapius-afrit weer terug beweeg tot by die R21 na Pretoria, verby Fonteine-sirkel noordwaarts na Van der Waltstraat en links op Johannes Ramokhoasestraat terug na die ou Putco-busdepot.
Dumisani Dakile, sekretaris van Cosatu in Gauteng,sê die tweede optog sal op 25 Februarie in Pretoria gehou word tydens die opening van die Gautengse wetgewer. Die derde aksie sal op 7 Maart, tydens die herdenking van Cosatu se landswye staking verlede jaar teen die e-tolstelsel en arbeidsmakelaars, gehou word. Dakile sê verlede jaar se protesaksies was net ʼn “voorsmakie van wat nog kom.” Hy sê al beteken dit Cosatu moet elke week ʼn protesaksie hou “totdat die regering vir ons luister, dan is ons bereid om dit te doen.”