Cosatu sê optog gaan voort al sê hof nee

Die vakverbond Cosatu sê alhoewel sy aansoek om vandag op Gautengse hoofweë teen die e-tolstelsel te betoog gisteraand deur die Johannesburgse-landdroshof van die hand gewys is, sal die optog voortgaan.

“Ons gaan voort met die optog en doen ʼn beroep op alle mense om Vrydagoggend 8:00 by Cosatu-huis bymekaar te kom,” het Patrick Craven, woordvoerder van Cosatu, gesê. Cosatu het die aansoek voor die hof gebring nadat hulle nie toestemming vir die betoging van die Johannesburgse metropolisie kon kry nie. Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die metropolisie, sê Cosatu is toestemming vir die optog geweier aangesien daar tydens ʼn vorige optog mense uit hul motors geklim het en op die snelweg geloop het. Minnaar sê dit is teen die wet.

Cosatu dreig om Vrydag verskeie hoofweë in Johannesburg tot ʼn stilstand te bring deur teen ʼn slakkepas daarop te beweeg. Cosatu het op 6 Desember die eerste keer met voertuie die strate ingevaar om teen die e-tolstelsel te betoog. Dumisani Dakile, ʼn woordvoerder van Cosatu, het Woensdag gesê tydens hul vorige betoging is twee bane vir verkeer oop gelaat om verby te beweeg, maar Vrydag gaan dit nie weer die geval wees nie. Die hoofweë wat dalk reeds van 08:30 deur die beplande betoging geraak gaan word, is die M1-noord, N1-suid, N12 en die M2-noord in die Johannesburg-omgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.