Cosatu wil gholf by Sun City ontwrig

Sun International sê Cosatu se dreigement om die Nedbank-gholftoernooi by Sun City te ontwrig, is kommerwekkend.

“Dit kan onherstelbare skade aan die handelsnaam en goeie reputasie van die Nedbank-gholftoernooi, Sun City, Noordwes en Suid-Afrika as ʼn geheel aanrig,” het Sun International se woordvoerder Tamara Veley in ʼn verklaring gesê. Cosatu dreig om die Nedbank-gholftoernooi met betogings te ontwrig as Sun International nie werkers se oortydgeld en betaling vir openbare vakansiedae betaal nie. Veley sê die toernooi, wat van 29 November tot 2 Desember gehou word, gaan 2 000 tydelike werkgeleenthede skep en ook ʼn donasie van R1 miljoen aan die sportstrust en ʼn verdere R1 miljoen vir gholfontwikkeling in Suid-Afrika genereer.

“Dit is vir ons hartseer dat hulle dreig om ʼn geleentheid wat een van Suid-Afrika se grootste geleenthede op televisie is en ekonomies van waarde is vir Noordwes en Suid-Afrika, te ontwrig.” Solly Phetoe, Cosatu se provinsiale sekretaris in Noordwes, sê Sun International het wel die geld om werkers te betaal. “In die vergadering (Woensdag) is daar vasgestel dat Sun City inderdaad met die werkers se geld sit, maar nie bereid is om dit aan hulle te betaal nie en ons weet nie hoekom nie,” het Phetoe gesê. Sun International het erken die werkers word geld geskuld en dat daar op nasionale vlak met die vakbonde onderhandel word om die saak op te los. Lesiba Kgwele, woordvoerder van die Noordwes-regering, sê in ʼn memorandum wat verlede maand aan die premier oorhandig is, word daar beweer dat nagenoeg R26 miljoen aan die werkers geskuld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.