Costa-passasiers veilig terug in SA

Die groep Suid-Afrikaners sit voor hulle middernagtelike vlug op die lughawe in Doha, Qatar. (Foto: Verskaf)

Meer as 150 Suid-Afrikaners wat dae lank op die luukse passasierskip Costa Pacifica vasgekeer was en weens die koronavirus-pandemie nêrens langs die Middellandse See voet aan wal kon sit nie, kom vanoggend op die Internasionale Lughawe OR Tambo aan.

Die groep het laat gistermiddag uit Rome na Doha in Qatar gevlieg waar hulle ná middernag ʼn aansluitingsvlug na Johannesburg gehaal het.

Maroela Media het vroeër berig dat die skip vroeg in Maart op ʼn transatlantiese vaart vanaf Buenos Aires, Argentinië, na Spanje vertrek het. Die sowat 3 000 passasiers het egter 15 dae lank op die see rondgevaar, nadat hulle nie toegelaat is om op die Kanariese eilandgroep óf in Barcelona, Spanje, waar die reis sou eindig, van die boot af te klim nie. Geen passasiers was siek weens die koronavirus nie.

Die Costa Pacifica, wat onder die Italiaanse vlag vaar, het later probeer om die passasiers in Marseilles af te laai, maar die owerhede het slegs Franse burgers toegelaat om af te klim. Die volgende halte was Genoa in Italië, waar meer as 6 000 mense reeds weens die koronavirus gesterf het.

Italiaanse en Argentynse passasiers is daar van die skip af gelaat, waarna dit Sondag oornag verder suidwaarts na die hawestad Civitavecchia naby Rome gevaar het.

Kort ná 13:00 gister (Maandag) het die bevel gekom dat die Suid-Afrikaners binne 10 minute moes pak om na Doha in Qatar te vlieg.

Welma Nortjé en haar kajuitmaat Adri Mans is verheug om uiteindelik na 15 dae op land te wees. (Foto: Verskaf)

“Ons sit in ʼn bus. Ons vra regtig nie vrae nie. Ons is net dankbaar ons kan gaan,” het Adri Mans van Danabaai per WhatsApp laat weet. Mans is een van sowat 20 mense uit die Mosselbaai-omgewing wat die reis van Suid-Amerika af meegemaak het.

Mans se kajuitmaat, Welma Nortjé van Pretoria, was vol lof vir die uiteindelike vinnige en seepgladde proses om van die vaartuig tot by die Leonardo da Vinci-lughawe uit te kom. “Dit was absoluut briljant. Van die boot af in ʼn tonnel, polisie, in die bus, direk na die lughawe,” het sy laat weet.

Johan Ferreira, die Suid-Afrikaner wat tydens die krisis deur die groep as woordvoerder aangewys is, het later ʼn foto gestuur wat op die vliegtuig geneem is. “Op pad na Doha en dan Suid-Afrika. Dankie tog!”

Daar is steeds onsekerheid of die groep, wat tot dusver geen simptome van besmetting met die koronavirus getoon het nie, in Suid-Afrika in kwarantyn geplaas gaan word, omdat hulle eintlik reeds vir 15 dae op die Costa Pacifica in isolasie was.

Intussen is sowat 40 Suid-Afrikaners op die Costa Luminosa glo ook gister van hul boot af gelaat. Die Luminosa was uit Florida via die Karibiese eilandgroep onderweg na Italië en het in Savona, Italië, voor anker gelê.

Johan Ferreire, die groep se woordvoerder, is bly dat hulle uiteindelik op pad terug is. (Foto: Verskaf)

Anders as in die geval van die Pacifica was al die passasiers op die Luminosa tot hul kajuite beperk, nadat ʼn passasier positief vir die koronavirus getoets is en na ʼn hospitaal in San Juan, Puerto Rico, oorgeplaas is.

Franse owerhede het gister berig dat daar 36 bevestigde gevalle van die koronavirus op die Luminosa is. Terselfdertyd is in die Australiese media gesê dat passasiers op die Luminosa vir twee weke in Italië in isolasie geplaas sal word.

Maroela Media het intussen verneem dat die Suid-Afrikaners op die Costa Luminosa vir twee weke in kwarantyn in Rome geplaas is.

Sowat 400 Amerikaners en Kanadese passasiers op die Luminosa is reeds na die VSA vervoer, maar dié ondervinding was baie erger as wat hulle die afgelope twee weke op die Luminosa gehad het. Die New York Times het soos volg daaroor berig:

“Verskeie passasiers het beswyk en byna 24 uur lank geen kos gehad nie. Twee het by hul aankoms in respiratoriese nood verkeer. Ander se koors was so hoog dat hulle van die res van die reisigers aan boord van die vlug geskei moes word. Verskeie het erge hoesbuie gehad.”

Tydens die vlug het mediese personeel die passasiers gevra om grondboontjies met ander te deel nadat hulle weens lae bloedsuiker flou geword het.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Belinda ·

Sjoe ek is baie bly vir die mense wat kon terugkeer, mag alles nou voorspoedig gaan. Sterkte nog vir Luminosa passasiers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.