Covid-19: Gedeeltelike afsondering in Namibië werk só

Die Namibiese vlag. (Foto: Verskaf)

ʼn Staat van gedeeltelike afsondering vanaf Vrydag is Dinsdag deur die president van Namibië, Hage Geingob, aangekondig om die verspreiding van die Covid 19-pandemie te voorkom. Dit volg op ʼn noodtoestand wat dié land se regering op 17 Maart afgekondig het.

Dié 21 dae van gedeeltelike afsondering is van toepassing op die Khomas- en Erongo-streke, en die land se grense sal ook vir reisigers gesluit wees (met die uitsondering van die Hosea Kutako Internasionale Lughawe [HKIA] net buite Windhoek). Dit tree in werking op eerskomende Vrydag 27 Maart en sal tot 16 April duur.

Hierdie besluit is geneem nadat ʼn sewende persoon in Namibië Dinsdag positief getoets is vir die koronavirus. Van dié sewe gevalle is vier buitelanders en drie Namibiërs, en een van die gevalle is klaarblyklik plaaslik aangesteek aangesien dié persoon geen reisgeskiedenis het nie. Volgens die webwerf IOL sluit die mense wat Dinsdag positief getoets is ʼn Namibiese manstudent in wat aan die Universiteit van die Witwatersrand studeer en onlangs huis toe gekeer het. Hy het sy uitslag eers ontvang toe hy reeds tuis was.

Die regulasies wat deur die Namibiese regering afgekondig is, bepaal dat niemand die land vir ʼn tydperk van 30 dae mag binnekom of verlaat nie, tensy dit ʼn noodgeval is, of vir doeleindes van die lewering van goedere en dienste. Namibiese burgers en permanente inwoners mag wel na die land terugkeer indien hulle tans in die buiteland is, maar sal vir ʼn tydperk van 14 dae op hul eie koste in verpligte kwarantyn geplaas word.

Die regering het die publiek verseker dat die vloei van goedere en dienste na Namibië vanaf Suid-Afrika en ander buurlande nie onderbreek sal word nie.

Tydens die mediakonferensie het Bernard Haufiku, die land se voormalige minister van gesondheid wat aangewys is as koördineerder van Namibië se strategie om die pandemie te stuit, gesê Rehoboth en Okahandja word vir die tydperk van afsondering beskou as deel van die Khomas-distrik, sodat mense wat in dié twee dorpe woon, maar in Windhoek werk, steeds heen en weer sal kan reis. Padblokkades sal suid van Rehoboth en net noord van Okahandja opgestel word om te verseker dat landsburgers die regulasies nakom.

Die Erongo-distrik sluit in Arandis, Hentiesbaai, Karibib, Omaruru, Swakopmund, Uis, Usakos en Walvisbaai. Die Khomas-distrik sluit Windhoek, en daarmee saam Okahandja, die HKIA-lughawe en Rehoboth in.

Tydens die mediakonferensie waar die maatreëls bekend gemaak is, het Kalumbi Shangula, minister van gesondheid, ʼn beroep op die publiek gedoen om saam te werk. “Ons doen ʼn ernstige beroep op die publiek om tuis te bly en openbare byeenkomste by plekke soos kroeë, sjebeens, nagklubs en markte te vermy,” het hy gesê.

Die Namibiese polisie het aangekondig dat hulle op bystand is om die maatreëls wat afgekondig is, af te dwing ten einde te verseker dat mense tuis bly en openbare byeenkomste vermy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.