Covid-19: Medici werk teen tyd om ʼn geneesmiddel te kry

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Angelo Esslinger/Pixabay)

Die wêreld hou asem op en hou die mediese bedryf angstig dop om te sien hoe vinnig doeltreffende behandeling vir Covid-19 en ʼn teenmiddel teen die koronavirus gevind kan word. Tans is daar wêreldwyd sowat 80 studies in dié verband aan die gang.

Prof. Anton Stoltz, hoof van die departement aansteeklike siektes aan die Universiteit van Pretoria, meen hoe meer studies daar is, hoe beter. Hy sê Suid-Afrika moet by soveel moontlik van die studies betrokke raak. “Hoe meer ons weet van die virus en moontlike doeltreffende behandelingsopsies, hoe laer sal die sterftesyfer wees. Ons wil dit uiteindelik afbring na minder as 1%, wat strook met die gewone griepvirus, wat tans 0,5% is,” sê hy.

Die winter is op pad

Volgens Stoltz is die pandemie in Suid-Afrika nog nie in volle swang nie. “Ons winter lê nog voor. Mense wat reeds ’n swak immuunstelsel het, neem langer om van die virus te herstel. In ons land kan die hoë MIV- en tuberkulosesyfer ons stryd om die virus uit te roei, verleng.” Hy sê dokters hoop dit sal nie langer as twee tot drie maande duur om infeksiegetalle genoegsaam te verlaag nie, maar ek is oortuig dat dit heel moontlik langer sal wees. Die winter sal dit boonop vir dokters moeilik maak om te onderskei tussen Covid-19 en ander respiratoriese siektes.

Medikasie wat moontlik kan help

Navorsers reg oor die wêreld toets op die oomblik ’n verskeidenheid medikasies wat voorheen in die stryd teen Ebola, Sars, MIV en ander wêreldwye uitbrekings ingespan is. Mediese navorsers en regulerende liggame werk dag en nag om ’n werkbare oplossing te vind, wat selfs net die verloop van die virus kan verkort.

Die studies wat tans gepubliseer is, is klein, en die meeste beskik nie oor kontrolegroepe nie, wat dit moeilik maak om betroubare gevolgtrekkings te maak. Om nuwe medikasie te ontwikkel, is tans onprakties, aangesien dit gewoonlik ’n dekade of selfs langer neem voordat sulke medikasie vir menslike gebruik goedgekeur word.

Een van die studies wat tans gedoen word, is oor die middel Remdesivir. Resultate van dié studie behoort in April uitgereik te word. Remdesivir is ’n antivirale medikasie wat oorspronklik deur die biofarmaseutiese navorsingsmaatskappy Gilead ontwikkel is om Ebola te behandel. Dit was nie effektief in die behandeling van Ebola nie, maar was wel suksesvol in die behandeling van sekere koronavirusstringe. Gilead werk tans nou saam met navorsers en regerings reg oor die wêreld om kliniese proewe aan die gang te sit. Ses groot studies is reeds op dreef, waarvan een die behandeling van kritieke pasiënte in China behels. Remdesivir is ’n middel wat binneaars toegedien word.

Nog ’n moontlike behandeling lê in die bloedplasma van mense wat van die virus herstel het, aangesien hulle liggame reeds teenliggaampies ontwikkel het. Die plasma kan dan aan siek pasiënte gegee word om hulle met ʼn beter immuniteitstelsel in staat te stel om die virus te beveg. ʼn Studie hieroor is met tien pasiënte in China gedoen. Sewe van die pasiënte het baie goed gereageer op die behandeling en het heeltemal herstel. Takeda, ’n internasionale navorsingsmaatskappy, werk aan ’n verbeterde metode wat ’n gekonsentreerde hoeveelheid teenliggaampies uit die plasma onttrek om die behandeling meer doeltreffend te maak. Dié behandeling sal egter eers oor nege tot 18 maande beskikbaar wees.

Is die oplossing dalk Chloroquine?

Stoltz meen die navorsing wat die meeste potensiaal toon, is dié oor Chloroquine, ’n middel wat malaria beveg. Volgens hom steek daar waarheid in pres. Donald Trump se onlangse voorstel dat Chloroquine in kombinasie met ander middels soos Azithromycin verder ondersoek moet word. Hy glo vas dit kan ’n doeltreffende en praktiese oplossing vir die virus wees, aangesien die veiligheid van die middels reeds vasgestel is.

Stoltz maan egter dat die werking daarvan nog nie bevestig is nie. “Volgens voorlopige resultate van studies bekamp Chloroquine die virus deurdat dit die pH van die omgewing waarin die virus in die sel beweeg, verhoog en sodoende die verdubbeling van die virus stuit.”

Talle hospitale in die VSA het reeds die gebruik van dié middels in hul riglyne vir die behandeling van koronavirus-pasiënte ingesluit. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se direkteur-generaal, Tedros Adhanom Ghebreyesus, het egter gewaarsku dat middels wat nog nie volledig getoets is nie, dalk valse hoop aan die publiek kan gee en ’n tekort aan die middels kan skep vir die behandeling van siektes soos malaria.

Studies deur die WGO

Chloroquine is egter ingesluit in die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se huidige pogings om die virus te bekamp. Die WGO het onlangs ’n wêreldwye, grootskaalse studie van stapel gestuur waaraan Suid-Afrika deelneem. Die idee met die studie is om soveel data as moontlik in te samel en tien ander lande neem ook aan die studie deel. Tarik Jasarevic, skakelbeampte van die WGO, meen die model is eenvoudig. “Ons vra dokters wat koronavirus-pasiënte behandel om een van vier opsies te kies en dit tesame met die vordering van die pasiënt aan te teken.”

Die volgende opsies word voorgestel:

  • Die gebruik van Remdesivir;
  • Die gebruik van ’n kombinasie van twee MIV-middels, Lopinavir en Ritonavir;
  • Die gebruik van Lopinavir en Ritonavir met interferon beta, ’n immuunstelselboodskapper wat die virus kan kniehalter; en
  • Chloroquine.

Entstowwe

Daar is verskeie entstowwe wat tans ontwikkel word, maar dit neem ten minste ’n jaar, selfs langer, om seker te maak dit is veilig vir menslike gebruik. Moderna, BioNTech en Pfizer is van die groot farmaseutiese maatskappye wat tans werk aan die ontwikkeling van ’n entstof. Selfs as die vervaardiging van die entstof opgeskerp word, kan die beskikbaarheid van so ’n entstof ook ’n probleem wees. Moderna het onlangs gesê die maatskappy werk hard daaraan om nog in 2020 ’n entstof beskikbaar te stel, al is dit net vir gesondheidswerkers, maar Rajeev Venkayya, president van Takeda se globale entstof-eenheid, waarsku dat die sukses van die ontwikkeling van ’n entstof nie gewaarborg kan word nie. Tog bly hy optimisties. “Hoe meer navorsing daar gedoen word, hoe beter is die kans dat een van die pogings sal slaag.”

Ibuprofen en fopnuus

Die afgelope tyd het ʼn boodskap op sosiale media en WhatsApp die ronde gedoen wat mense sterk aanbeveel om nie Ibuprofen te gebruik nie. Luidens die boodskap kan die middel mense wat die virus het, se simptome vererger en kan dit glo selfs dodelik wees. Stoltz meen dié boodskap is waarskynlik fopnuus. “Volgens die riglyne waarvolgens dokters pasiënte behandel, is daar geen wetenskaplike bewyse om dié gevolgtrekking rakende Ibuprofen te maak nie en word die besluit om die middel aan ’n pasiënt voor te skryf, aan die dokter oorgelaat.”

Mzwandile Masina, burgemeester van Ekurhuleni, is verlede week luidkeels toegejuig toe hy aankondig dat hy die stad se rampfonds gaan gebruik om ʼn geneesmiddel vir Covid-19 aan te koop. News24 berig egter dat die middel waarna hy verwys het, nie deug vir die behandeling van Covid-19 nie.

In tye soos dié waarin die regering die skep en verspreiding van fopnuus rakende die virus verbied, is dit belangrik om eers deeglik na te lees oor die stand van sake voordat jy ’n besluit neem wat jou of jou gesin se gesondheid mag beïnvloed. Wees versigtig om nie inligting oor medikasie wat jy lees of ontvang, sonder meer te glo of te versprei nie.

Isolasie nou die beste strategie

Talle ander oplossings vir die bekamping van die koronapandemie word tans wêreldwyd ondersoek. Die belangrikste is om moed te hou – die mediese bedryf gebruik tans alle hulpbronne tot sy beskikking om so gou moontlik ’n effektiewe behandeling aan die publiek te verskaf. Voorlopig is algehele afsondering die enigste bewese strategie wat effektief is om die verspreiding van die virus te bekamp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anel

Soos hulle sê, ons winter kom nog. Gaan hulle ona opgesluit hou tot September? Verder help dit nie mense sê dat dit die natuur of God se plan is om bevolkings te verminder nie. Het julle al gedink hoeveel Kersfees en nuwejaar babatjies gaan wees hierdie jaar? (Kies in die tong). En teen die tyd hulle oor 18 maande ‘n entstof gekry het, het daar intussen ‘n nuwe gogga ontstaan. Die enigste manier om gesond te bly is eet gesond, bly skoon, wees positief, moennie depresief raak nie, sien die mooi elke daag, die son wat skyn, die voëltjies wat… Lees meer »

Cherokee

Die veiligste vir nou is handhaaf self-isolasie en as jy moet uitgaan vir ‘n six-pack, ‘n carton of so iets, doen dit haastig en keer terug na jou hok.