Cradock-botsing: Uitkenningsproses begin

Die foto is deur @AngelaGillham op Twitter gelaai.

Die taak om die 18 persone uit te ken wat Saterdag in ʼn gru-botsing naby Cradock gesterf het, het Maandag begin.

ʼn Skoolhoof en twee leerlinge van die Laerskool Cradock was onder die 18 mense wat Saterdagoggend oorlede is. ʼn Skoolbus en ʼn Mercedes Benz-minibus het op die R61 tussen Cradock en Graaff-Reinet in die Oos-Kaap gebots. Die skoolhoof het die bus bestuur toe die ongeluk plaasgevind het. Veertien mense is ernstig beseer in die ongeluk en is na nabygeleë hospitale geneem vir verdere behandeling. Die skoolbus was glo onderweg na ʼn sportbyeenkoms in Graaff-Reinet. Die Mercedes Benz-bus het passasiers van Kaapstad na Mthatha vervoer. Die bestuurder van dié bus is ook in die ongeluk oorlede.

“Die lyksuitkenningproses het vanoggend begin,” het Tshepo Machaea, ʼn woordvoerder van Arive Alive, gesê. “Die grootste deel van die identifikasieproses gaan egter eers Woensdag plaasvind wanneer naasbestaandes, wat tans van Kaapstad onderweg is, opdaag. Dit is ʼn baie traumatiese proses en beraders is op die toneel om die families by te staan,” het hy gesê.

Intussen het president Jacob Zuma sy diepste meegevoel betuig teenoor die familie van die slagoffers. Zuma het die beseerdes ook ‘n spoedige herstel toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.