Cradock-busramp: Meisie glo van een voertuig na ander geslinger

Die foto is deur @AngelaGillham op Twitter gelaai.

Terwyl die uitdagende taak van die identifisering van die liggame van Saterdag se noodlottige ongeluk in die Oos-Kaap begin het, het daar gister gruwelike besonderhede aan die lig gekom van hoe ‘n klein meisie se liggaam van een voertuig na die ander geslinger is.

TimesLive berig dat die sewejarige meisie se liggaam in die Laerskool Cradock se skoolbus gevind is. Onderwysers van die skool het egter daarop aangedring dat sy nie een van die skool se leerlinge was nie. Die meisie was glo ʼn passasier van die minibus en is na bewering uit die voertuig in die skoolbus in geslinger toe die twee voertuie gebots het. Die hoof van Laerskool Cradock, Wimpie van der Merwe, en die 10-jarige Stephanus Cornelius Ferreira was onder die oorledenes. Die adjunkhoof van die skool, Alfie Blume, sterk tans aan in die Greenacres-hospitaal. ʼn Onderwyser van die skool, Jacques de Meillon, het ʼn rugbesering opgedoen in die ongeluk en word vandag in Bloemfontein geopereer. Die dodetal van die ongeluk is aanvanklik as 16 aangedui en is later tot 18 verhoog. Arrive Alive het egter later bekendgemaak dat 17 mense in die ongeluk gesterf het. Volgens ooggetuies het die Mtwana Tours minibus ʼn ander voertuig op ʼn blinde hoogte verbygesteek voor dit reg van voor teen die skoolbus, wat onderweg was na ʼn sportbyeenkoms op Graaff-Reinet, gebots het.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.