Crowd1: Finansiële instansies waarsku oor ‘piramideskema’

(Foto: Verskaf)

Die finansiëlesektorreguleerder (FSCA) het vandeesweek gewaarsku dat Crowd1 nie magtiging het om finansiële dienste te lewer nie en tans deur die Reserwebank ondersoek word om vas te stel of dit soos ʼn bank optree deur geld by mense te vat en dit dan in besit te hou.

Die bank het mense ook gewaarsku om uiters versigtig te wees as hulle geld by ongereguleerde ondernemings wil belê.

Dit gons op sosiale media oor die kitswelvaartplan, Crowd1, ná dié onderneming die afgelope naweek in koerantberigte as ʼn reusepiramideskema beskryf is. Derduisende Suid-Afrikaners, onder wie bekende sportmanne, tel onder die meer as ses miljoen mense wat na bewering wêreldwyd geld in dié netwerk belê het.

Van dié beleggers is nou erg bekommerd dat hulle ʼn rat voor die oë gedraai is. Ander glo steeds Crowd1 gaan al hulle finansiële sorge laat verdwyn. Dié beleggers skel op sosiale media op beleggers wat koue voete begin kry en dreig dat die “grootbase” van Crowd1 teen die media optree.

(Foto: Verskaf)

Dit kom boonop nou voor of die stigters van Crowd1 verbind word met vorige piramideskemas waardeur beleggers geld verloor het.

Crowd1, oftewel Impact Crowd Technology, het in Swede ontstaan, ʼn draai in Dubai gemaak en toe na Madrid in Spanje verskuif.

Die onderneming word beskryf as ʼn internasionale multivlak- digitale bemarkingsnetwerk wat wêreldwyd by die aanlyn dobbel- en speletjiesbedryf geaffilieer is en beweer dat hulle hul inkomste onder meer daaruit verkry. Die twee ondernemings waarby Crown1 geaffilieer is, Affiglo en Miggster, se webwerwe is egter tans nie interaktief nie.

Geen produkte, afgesien van opvoedkundige pakkette, word versprei of verkoop nie en dit lyk asof die sakemodel slegs gegrond is op die verkryging van nuwe lede wat deur die reeds bestaande lede gewerf word. Ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing word dit as ʼn piramideskema beskou.

Dit kon nie bevestig word of die Nasionale Verbruikerskommissie (NCC) ook die onderneming ondersoek nie.

Crowd1 hou egter vol dat hulle ʼn massabemarkingsnetwerk bedryf wat volgens ʼn eenvoudige stelsel ontwerp is. Dit word beskryf as ʼn “vyfminute-onderneming wat vinnig besig is om ʼn eenminuut-onderneming te word”.

“Dis bloot sagteware wat op ʼn slimfoon afgelaai word en wat die gewone man op straat toelaat om deel te wees van waarskynlik dié maklikste onderneming op hierdie planeet,” sê Crowd1 Suid-Afrika se Derick Roberts tydens ʼn aanlyn bemarkingspraatjie wat na bewering voor ʼn groot gehoor in Durban opgeneem is.

Johan Staël von Holstein. (Foto: Verskaf)

“Ons praat van persoonlike bemarking, deesdae kan jy alles op jou selfoon doen, dis soos ʼn digitale biblioteek wat jou tot die Gig-ekonomie toegang gee,” vertel hy.

Die vier verskillende beleggingspakkette kos tussen €99 en €2 499 en volgens die bemarkingsmateriaal kan beleggers tot €20 000 of sowat R391 000 per week verdien.

Op Facebook word die skema se beleggingsvoordele selfs in Zoeloe besing – daar is glo reeds ʼn Afrikakantoor in Sandton oopgemaak.

Dis nie duidelik wie die onderneming in Swede begin het nie en volgens die Sweedse webwerf Trijo News het nie een van die moontlike kandidate juis ʼn onbevlekte verlede nie.

Twee van hulle is Swede, Jonas Eric Werner en Johan Staël von Holstein, wat albei glo verbind word met ander vorige piramideskemas wat mense op lang termyn verarm gelaat het.

ʼn Suid-Afrikaanse blogger, Badisa Boikanyo, het wyd navorsing oor Crowd1 gedoen en beweer nou dat Werner en Von Holstein betrokke was by die piramideskemas Synkronise en Spinglo, wat slegs drie jaar bestaan het voor dit in 2012 in duie gestort het.

Jonas Eric Werner. (Foto: Verskaf)

“Werner was destyds die bedryfshoof van Synkronise en die skema se sakemodel was feitlik 100 persent soortgelyk aan dié van Crowd1,” sê Boikanyo op sy blog.

Von Holstein is in September verlede jaar aangestel as Crowd1 se uitvoerende hoof. Hy het as entrepreneur bekendheid in Swede verwerf, maar die meeste van sy vorige ondernemings het gevou of is ontbind.

Die derde moontlike stigter van Crowd1 is ʼn burger van Ciprus, Stelios Piskopianos, die eienaar van Crowd1 Network Europe Ltd. Hy is ook die geregistreerde eienaar van al die Crowd1-webwerwe asook Affiglo en Miggster se onderskeie webwerwe wat nog nie interaktief is nie.

Die Bank van Namibië het Crowd1 in Februarie vanjaar onwettig verklaar en die netwerk daar verbied. Namibiërs wat steeds volhou om landgenote te werf om geld te belê, kan met tot ʼn miljoen rand beboet of tien jaar tronkstraf opgelê word.

“Die sakemodel is nie volhoubaar nie en mense wat laat inkom, gaan uiteindelik hulle geld verloor,” het die bank in ʼn verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Kokerboom ·

Daar is nie pille vir domheid nie! Dis hartseer dat gierigheid mense dryf tot sulke onnosele aksies.

SwooshTM ·

Dis goed Kobus… ek het 4 weke terug, en ek het laas vrydag klaar my R2000 terug gekry.

Ek sal teen volgende Vrydag weer tenminste R2000 kan terug kry.

twaalfboor ·

Jip…. die “scam” het my 2k al vervier dubbel. Hoe “dom” is dit nou nie van my nie. Teen die tyd wat ons “vleklose” Suid Afrikaanse finansieële instansies wakker skrik het ek my mikpunt bereik. Hoe “dom” van my. LOL!!!!

Stefan ·

Hierdie ding gaan homself oplos.
Die dommes het een of ander tyd net nie meer geld oor om in hierdie piramide gemors te ‘belè’

SwooshTM ·

Gelukkig het hierdie “Dom” een klaar meer as sy geld terug gekey… en my geld word meer deur hierdie “piramide gemors”. ????

Belinda ·

En petrol op die vuur, is dat gewone mense ons eie “so-called” “celebrities” volg…

Realis Thailand ·

Ek gaan met groot genot kyk hoe die klagtes later instroom teen die besigheid want firma is dit nie.
Mense wil ook nie luister en weet altyd beter
In die tye gaan mense net meer geld verloor en gewoonlik die wie dit nie kan bekostig nie .
Realis Thailand

SwooshTM ·

Wel Barry… ek gaan nie klagtes indien nie. Ek het reeds meer as die ou R2000’tjies terug gekry wat ek net 4 weke terug betaal het… en sonder om nog geld in te sit sal ek teen einde volgende week weer R2000 kan uittrek… so dis regtig sleg die “SCAM” wat so uitbetaal…

Jinksie ·

Wel SwooshTh dis nog nie later nie… ons sal nog vir julle lag!

SwooshTM ·

Lag waaroorJinkie…?

Ek het klaar my geld terug gekry… en volgende week weer R2000. Dit is 100% rente in 6 weke.

So ek het NIKS om meer te verloor nie.

So waaroor julle gaan lag weet ek nie… maar ONS gaan wel lag wanneer mense nie meer KAN aansluit nie.

SwooshTM ·

Baie snaaks dat ek klaar meer as dubbel my R2000’tjies terug gekry het wat ek ingesit het 4 weke terug uit die verskriklike “SCAM” uit wat die mense bedryf.
En om te dink… ek moet niks meer in sit om weer volgende maand nog uit te kry nie… hoe durf hulle my nog geld uit te betaal as ek nie nog geld insit nie!!!

SWAK verslaggewing.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.