Die aktrise Katie Holmes het Vrydag aangekondig dat sy haar vyfjaarlange huwelik met Tom Cruise wil beëindig.
Holmes (33) wil alleeneienaarskap oor hul dogter, Suri, bekom. Die 49-jarige Top Gun-ster se hart is glo gebreek oor dié aankondiging. Holmes het onder andere Cruise se geloof, Sciëntologie, en verskille oor hoe hul dogter grootgemaak moet word, blameer vir dié besluit.
Volgens Time sal Holmes, kragtens hul voorhuwelikse ooreenkoms, sowat $3 miljoen kry vir elke jaar wat sy met Cruise getroud was – tot ʼn maksimum van $33 miljoen. Sy sal ook die paartjie se huis in Monetcito, Kalifornië, bekom. Indien hulle vir langer as 11 jaar getroud was, sou Holmes bykans die helfte van Cruise se bates, sowat $250 miljoen, bekom het.
Cruise was voorheen met die aktrises Nicole Kidman en Mimi Rogers getroud. Hy het twee kinders saam met Kidman.