Curriebeker Eersteligaspanne dreun mekaar op

Die Curriebeker se Eersteliga is nou by die halfpadmerk en die spanne het gisteraand gesweet om die oorhand oor mekaar te kry.

‘n Riller van die eerste water het hom in Potchefstroom afgespeel waar die SWD Arende die Luiperds met 50-47 geklop het. Albei spanne het elf drieë behaal en uiteindelik was die verskil een enkele strafdoel.

‘n Hele paar kilometer verder suid was dit die Border Bulldogs wat Port Elizabeth toe gery het om die OP Kings in ‘n sopnat Nelson Mandela-stadion aan te vat. Die Kings het met 9-6 deurgeskraap. Die Bulldogs was vanjaar nog net een keer aan die wenkant en dit het gisteraand so amper twee geword, want was dit nie vir Ntabeni Dukisa se skepskop nie het die Kings met rooi gesigte gesit nadat hulle besluit het om hul Superspelers vir die stryd te laat rus. Met rustyd was die saai wedstryd gelykop en dit het 37 minute geduur voordat Dukisa ‘n strafskop behaal het. David Sabbagh van die Grensmanne het net voor rustyd ‘n lang strafskop oorgeskop en die spanne het gaan lemoene eet met drie punte elk op die telbord. Grens het kort na rustyd ‘n verrassende 6-3-voortou geneem toe Sabbagh se skopvoet in die kol was. Twintig minute later het Dukisa dit 6-6 gemaak. So het dit gebly totdat sy laaste, heldhaftige skepskop deur die pale getrek het.

Puntemakers:
OP Kings: Strafskoppe: Natbeni Dukisa (2); skepskop (1)
Border Bulldogs: Strafskoppe: Dale Sabbagh (2)

Die Eersteliga se puntelys lyk nou so:

In vanmiddag se Eersteligawedstryde pak die Griffons die Kavaliers en die Pumas die Valke. Die Griffons en Kavaliers behoort ‘n baie gelykopstryd op te lewer aangesien die twee spanne waarskynlik ewe veel skietgoed het. Die verskil tussen wen en verloor gaan bepaal word deur die span wat sy kanse die beste aanwend. Dit sal ‘n perd van ‘n ander kleur wees in Nelspruit waar die voorlopers, die Pumas, die Valke aanvat. Indien dit sous, mag dit dalk meer van ‘n gelykmaker wees, maar die Pumas en die Luiperds lyk tans na die spanne wat die een hand op die gesogte trofee wil kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.