Curriebeker-reeks lewer groot opwinding op

Die Leeus, Haaie en die Westelike Provinsie het hulle wedstryde gewen in die naweek se Curriebeker-reeks. Die Bulle en Cheetahs het vir ʼn naelbyt-stryd gesorg toe hulle gelykop geëindig het.

Die Leeus het die Griekwas met 41-25 gewen. Die wedstryd het nege drieë en drie geelkaarte opgelewer en het verseker dat die Leeus bo aan die punteleer bly. Die Leeus was halftyd met 20-6 voor. Deon van Rensburg het twee drieë vir die Leeus aangeteken terwyl Pat Cilliers, Michael Killian en Alwyn Hollenbach en Jaco Taute ook vir die span punte aangeteken het. Elton Jantjies het vier doelskoppe en ʼn strafskop deur die pale gejaag. Die Haaie het die Pumas met 33-17 geklop met hulle wedstryd Saterdag op Kings Park. Die Pumas het rustyd met 17-14 voorgeloop. Twee drieë aan die einde van die wedstryd deur Jacques Botha het ʼn oorwinning vir die Haaie verseker. Craig Burden, Jean Deysel en Anton Bresler het die ander punte vir die haaie aangeteken. Fred Michalak het vier doelskoppe deur die pale gejaag. Coenie van Wyk het met sy twee drieë, twee doelskoppe en ʼn strafdoel die meeste punte vir die Pumas aangeteken. Tiaan Marx het die ander strafdoel vir die Pumas aangeteken.

Die Westelike Provinsie het die Luiperds met 49-21 geklop in hulle wedstryd Saterdag op Nuweland. Die Westelike Provinsie se puntemakers was Tertius Daniller, Nick Fenton-Wells, Danie Poolman, Nick Groom, Brok Harris en Siya Kolisi. Whestley Moolman, Joubert Engelbrecht en Hoffman Maritz het die Luiperds se punte aangeteken. Die Bulle en die Cheetahs het gelykop gespeel met 22 punte elk in ʼn naelbyt-stryd Saterdag in Bloemfontein. Wilhelm Steenkamp het die Cheetahs se enigste drie gedruk terwyl Johan Goosen ʼn doelskop en vyf strafdoele deur die pale gejaag het. Francois Venter het die Bulle se enigste drie aangeteken terwyl Louis Fouché ʼn doelskop en vyf strafdoele deur die pale gejaag het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.