Curriebeker se Eersteliga vol drieë; Pumas bly gunsteling

Die Pumas het hierdie naweek meer daglig tussen hulle en die res van die spanne in die Curriebeker se Eersteliga geplaas terwyl die SWD Arende, OP Kings en Boland Kavaliers ook oorwinnings geproe het.

Die Pumas, wat in die Vodacombeker-eindstryd die knie moes buig voor die Leeus, het met ’n ontsagwekkende sege van 69-12 oor die sukkelende Valke in Nelspruit gewys hoekom hulle boaan die puntelys is. Hulle het rustyd met 34-0 voorgeloop en die Valke was steeds 0-62 agter toe Juan Kotze en Lubabalo Gwavu elk ’n drie gedruk het om te keer dat hulle met bloedrooi gesigte huis toe is. Die Pumas het altesame nege drieë gedruk wat almal deur die losskakel, Carl Bezuidenhout, verdoel is. Bezuidenhout het op die koop toe twee strafdoele deur die pale gejaag, terwyl die verloopte Blou Bul, Stefan Watermeyer, twee keer agter die doellyn gekuier het. Met hierdie oorwinning bly die Pumas onoorwonne met ‘n sewende oorwinning in ’n ry.

In vandag se ander wedstryd het die Boland Kavaliers die Griffons danksy ’n indrukwekkende tweede helfte in Kimberley getroef. Terwyl dit rustyd na ’n gelykopstryd gelyk het met 22 punte elk en elke span wat drie drieë gedruk het, het die Kavaliers in die tweede helfte vyf drieë gedruk en uiteindelik 55-35 koning gekraai. Hulle het in 21 minute 28 punte sonder teenantwoord aangeteken. Selfs in die skopafdeling het die Kavaliers die septer geswaai met Eric Zana wat met ses doelskoppe en twee strafskoppe geslaag het teenoor Louis Strydom se twee strafdoele en twee doelskoppe. Die Griffons het egter self vyf drieë ingeryg vir ’n bonuspunt.

Vrydagaand het die Arende diep gedelf om die ander aanspraakmaker op vanjaar se Eerste Liga-trofee, die Luiperds, met 50-47 in Potchefstroom te klop in straks die spannendste wedstryd van die naweek. Geen span kon op sy louere rus nie en die voortou het telkens van eienaar verwissel. Trouens, dit het geblyk asof ’n agterstand hierdie twee spanne telkemale nuwe momentum gegee het. Die Arende het altesame vyf drieë teenoor die Luiperds se ses gedruk. Veral die tweede helfte was ’n drieëfees wat die karige skare warm gehad het ondanks die koue weer. Buiten die groot getal drieë wat gedruk is, het die Arende se skerpskutter-losskakel, Justin van Staden, al vyf sy span se drieë verdoel en boonop met vyf strafskoppe geslaag. Sy Luiperds-eweknie, Adriaan Engelbrecht, se skoprekord vir hierdie wedstryd is ook nie te versmaai nie met ’n geslaagde vier doelskoppe en drie strafdoele.

Die ander wedstryd Vrydagaand tussen die OP Kings en Grens Bulldogs was ‘n vervelige affêre sonder drieë wat uiteindelik met ’n skepdoel beklink is. Tekenend van die tekort aan aksie was die rustydtelling van 3-elk nadat die eerste punte eers ná 37 minute met ‘’n strafskop deur Ntabeni Dukisa aangeteken is. Die Bulldogs se heelagter, Dale Sabbagh, het met die eerste helfte reeds verstreke sake gelykop gemaak. Sabbagh en Dukisa het elkeen met ’n strafskop in die tweede helfte geslaag voordat Dukisa sy skepdoel oorgeklits het en sy span met 9-6 laat seëvier het. Die kommerwekkende aspek van die Kings se spel is dat hulle alle fasette van die spel vir sowat 60 minute oorheers het sonder om dit in punte om te skep.

Die volgende Eerste Liga-wedstryde is:
Vrydag 16 Augustus:
OP Kings teen Pumas (Nelspruit, afskop: 19:00)
SWD Arende teen Grens Bulldogs (George, afskop: 19:00)

Saterdag 17 Augustus:
Griffons teen Valke (Welkom, afskop: 15:00)
Luiperds teen Boland Kavaliers (Potchefstroom, afskop: 17:15)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.