Curriecup-reeks lewer verrassende resultate op

Die Blou Bulle het Vrydag gewys hy is steeds ʼn span om mee rekening te hou in die Currie Cup-reeks toe hy die Griekwas met 44-20 verslaan het.

Die Bulle het reeds in die eerste helfte ʼn bonuspunt-drie behaal en was met rustyd 32-3 voor. Jano Vermaak, Juandré Kruger, Bjorn Basson, Akona Ndungane, Flip van der Merwe en Louis Fouché het die Bulle se punte aangeteken terwyl Sarel Pretorius, Jonathan Mokuena en Lourens Adriaanse vir die Griekwas oor die doellyn getrap het. Die Westelike Provinsie het ook sy slag gewys toe hy in sy Curriebeker-wedstryd met 28-26 die Leeus geklop het. Demetri Catraklis het weer beïndruk toe hy al sewe skoppe deur die pale gestuur het. Die Leeus het rustyd met 17-9 voorgeloop. Die Leeus het in die 81ste minuut die geleentheid gehad om die wedstryd met ʼn strafskop te beklink maar Elton Jantjies se poging na die pale was onsuksesvol. Die Haaie het Vrydag sy Curriebeker-wedstryd teen die Luiperds met 23-3 gewen. Dit sal egter kommerwekkend wees vir die Haaie se afrigter, John Plumtree, dat sy span nie daarin kon slaag om ʼn bonuspunt aan te teken nie. Die Cheetahs is terug op die wenpad nadat hy die Pumas met 80-16 kafgedraf het. Die Cheetahs was rustyd met 28-6 voor. Die Pumas kon egter nie hulle verdediging in die tweed helfte volhou nie en het die Cheetahs behoorlik die krane oopgedraai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.