Siyabonga Cwele, minister van staatsekuriteit het weereens die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting verdedig en gesê dat die doel nie is om die media te muilband nie.
Volgens Eyewitness News het Cwele gesê die omstrede wetsontwerp poog nie om joernaliste te reguleer nie. Die Nasionale Vergadering het die wetsontwerp in November goedgekeur, ten spyte van die beroep om ‘n klousule wat voorsiening maak vir openbare belang by die wetsontwerp in te sluit. Cwele het aangedui dat so ‘n klousule die doeltreffendheid van die wetsontwerp sou verswak. “Dit is nie bedoel om joernaliste te straf nie. Dit gaan oor die inligting wat moontlik openbaar gemaak kan word en daar sal dan geen terugkeer daarvan wees nie. As jy daarvoor ‘n oplossing kan vind, hoe verseker ons dat sensitiewe inligting nie openbaar gemaak kan word nie?” het die minister gesê.
Hy het voorts ook die ANC verdedig en gesê dat openbare vergaderings gehou word wat sal dien as inligting om wysigings aan die wetsontwerp aan te bring. “Indien enigiets geldig is, sal ons dit altyd oorweeg. Ons het onsself verbind. Toe ons met die wetsontwerp begin het, die vorige weergawe van die wetsontwerp, was ons baie ver verwyderd,” het hy gesê.