DA gaan Medupi-kontrakte ondersoek

Medupi-kragstasie Foto: Eskom

Medupi-kragstasie Foto: Eskom

Eskom het ingestem om die Demokratiese Alliansie toegang te bied tot al sy ooreenkomste met Medupi-kontrakteurs.

“Die DA het bevestiging ontvang dat Eskom al die kontraktuele ooreenkomste van die Medupi-kragstasie saamstel,” het Natasha Michael, DA-LP, in ʼn verklaring gesê.

Die DA het ʼn aansoek by Eskom ingedien onder die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA). “Volgens Eskom is die kontrakteurs in kennis gestel kragtens artikel 47 van PAIA,” het Michael gesê. “Dit is belangrik dat alle Medupi-kontrakte aan die publiek beskikbaar gestel word sodat hulle noukeurig ondersoek kan word.”

Volgens Michael is dit belangrik om die ooreenkomste te ondersoek om seker te maak dat streng kontrole in plek gestel is om te verseker dat partye hul sperdatums en doelwitte nakom en watter stappe gedoen kan word indien hulle onsuksesvol is.

LPs het Medupi in Julie besoek en uitgevind dat die eerste fase van die projek weens ʼn subkontrakteur, wat aan Hitachi Power Africa verbonde is, vertraag is. Michael het in daardie stadium gesê beamptes van Hitachi het aan die LPs gesê die subkontrakteur het Hitachi en Eskom mislei en gesê dat die gehaltekontroletoetse op die stoomketels reeds uitgevoer is.

Chancellor House, die beleggingsarm van die ANC, het ʼn 25%-aandeel in Hitachi, wat die stoomketeltender vir Medupi ontvang het.

Die eerste eenheid van Medupi moes in Desember reeds beskikbaar wees. Die sperdatum is nou, weens die vertraging, ses maande later.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.