DA gaan ʼn nie-rassistiese betoging teen misdaad in Delmas hou

Een van die plakkate wat verlede week gebruik is

Die DA van Mpumalanga gaan vandag ʼn nie-rassistiese betoging buite die Delmas-landroshof hou. Enock Mbele (47) en Lazarus Mabena (54) verskyn vandag weer in dié hof in verband met die moord op die 5-maandeoue Wiehan Botes en sy dagmoeder Magrietha de Goede (66), ná hulle verlede Donderdag borgtog geweier is.

Die DA se betoging volg  ʼn week ná sewe groepe by dié hof, tydens Mbele en Mabena so eerste verskyning, teen misdaad betoog het. Die DA in Mpumalanga het Maandag klagtes aanhangig gemaak by die Menseregtekommissie teen die sewe “verregse groepe” en het die betoging bestempel as ʼn “rassehaat protesaksie”.

Die DA se leier in Mpumalanga, Anthony Benadie, het gesê die groepe is: Die Boere-Afrikaner Volksraad, Volksraad Verkiesings Kommissie (VVK), Die Verkenners, Republikeinse Vrouebeweging, Kommandokorps, Herstigte Nasionale Party (HNP) en die AWB.

Van die plakkate wat glo tydens die protesaksie vertoon is sluit in: “Swart lafaards – los ons vroue en kinders uit”, “Diefstal, verkragting, moord: Ons is klaar met swart Suid-Afrika” en “Barbare los ons kinders uit.” Benadie het gesê die “opruiende slagspreuke” is teen die beginsel van “geen persoon mag onbillik teen ʼn ander persoon diskrimineer op grond van ras nie”. Hy gesê tragiese voorvalle soos die moord op Botes en sy dagmoeder mag nie deur “roekelose verregse groepe” as ʼn instrument gebruik word om hul “haatdraende en diskriminerende ideologieë” te bevorder nie.

Die DA gaan vandag betoog teen die regering se onvermoë om sy inwoners van landelike gebiede te beskerm en wil president Jacob Zuma maan om die party se landelike beskerming strategie te implementeer. Hulle vra ook dat die polisie se eenheid vir grens- en landelike veiligheid weer ingestel word.

“Ons gaan ook ʼn streng boodskap aan die verregse groepe stuur dat dit onaanvaarbaar was om dié moorde ʼn rassekwessie te maak tydens hul rassehaat protesaksie teen alle swart Suid-Afrikaners verlede week, waartydens hulle ook ʼn landsvlag verbrand het,” het die DA in ʼn verklaring gesê.

Die DA se betogers gaan 09:00 by die hof byeen kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.