DA gee Zuma ‘n F

President Jacob Zuma

President Jacob Zuma het sy jaar gedruip volgens die DA se 2012 kabinet-rapport.

Die Demokratiese Alliansie het Donderdag in Kaapstad ‘n F aan Zuma toegeken, terwyl adjunk-president Kgalema Motlanthe ‘n redelik gemiddelde punt ontvang het. Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, het die swakste punt in die klas ontvang.

Die regering het gesê die verslag is “skelm en misleidend”. Phula Williams, waarnemende woordvoerder vir die kabinet, het gesê dit is “duidelik ‘n doelbewuste aanval op die regering, gemik daarop om sy harde werk en prestasies te diskrediteer”.

Die DA het gesê Zuma het sy kantoor en Suid-Afrika gefaal “en die presidentskap behoort nie meer aan hom toevertrou te word nie”. Lindiwe Mazibuko, parlementêre leier van die DA, het hul die F toegeskryf aan die regering se “flou reaksie” op die gewelddadige mynerstaking by Marikana, die Nkandla-skandaal en die land se “gebrek aan rigting in die ekonomiese beleid”.

Hierdie kwessies, onder andere, het die DA en sewe ander opposisiepartye motiveer om ‘n mosie van wantroue in November teen Zuma in te stel.

Motlanthe is ‘n C toegeken. Joemat-Pettersson het ook ‘n F ontvang. Wilmot James, LP van die DA, het gesê die DA se graderingstelsel strek slegs van ‘n A tot ‘n F. “As dit laer as ‘n F gegaan het, het ons dít aan Joemat-Pettersson toegeken,” het James gesê. Collins Chabane, minister in die presidensie, Mildred Oliphant, minister van arbeid, Nathi Mthethwa, minister van polisie, en Siyabonga Cwele, minister van staatsekuriteit is almal ook ‘n F toegeken.

Toppresteerders in 2012 is Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid en Naledi Pandor, voormalige minister van wetenskap en tegnologie wat later na binnelandse sake geskuif het. Hulle het beide ‘n A ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.