DA gee Zuma weer ʼn F

ZumaPresident Jacob Zuma het weer, soos verlede jaar, ʼn F gekry op die DA se 2013 kabinet-rapport.

Die DA stel jaarliks die rapport bekend. Zuma, adjunkpresident Kgalema Motlanthe en ministers word ʼn simbool toegeken vir onder meer hul visie, prestasie, verantwoordbaarheid en finansies. “Terwyl president Zuma se prestasie in 2013 gekenmerk was deur ʼn skreiende gebrek aan leierskap, het die president ook gesorg vir van die grootste skandale in ‘n demokratiese Suid-Afrika,” het Joe Mcgluwa, DA-LP, gesê. Mcgluwa sê dit sluit onder meer in die gebruik van belastingbetalers se geld om opgraderings te doen aan sy private woning in Nkandla in KwaZulu-Natal, die ongemagtigde landing van die Gupta-familie se straler by die Waterkloof-lugmagbasis en die dood van 13 soldate in die Sentraal Afrikaanse Republiek. Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, Mildred Oliphant, minister van arbeid, Susan Shabangu, minister van minerale hulpbronne, Nathi Mthethwa, minister van polisie, Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling en Siyabonga Cwele, minister van staatsveiligheid, het almal ook ʼn F op hul rapporte gekry.

Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, het vir die derde agtereenvolgende jaar ʼn F gekry en is daar opnuut geëis dat sy moet bedank. Thulas Nxesi, minister van openbare werke, het ook ʼn F gekry. Slegs twee ministers het ʼn A op hul rapporte gekry naamlik Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, en Derek Hanekom, minister van wetenskap en tegnologie. Pravin Gordhan, minister van finansies, en Marthinus van Schalkwyk, minister van toerisme, het albei ʼn B gekry. Lindiwe Sisulu, minister van openbare administrasie, het ʼn C gekry. Sisulu het verlede jaar ʼn F gekry terwyl sy nog minister van verdediging was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.